Local newsNews

Groot Trek-produksie trek deur Roodepoort

'n Produksie wat gegrond is op die rol van vroue tydens die Groot Trek was onlangs in die Roodepoort Teater te sien.

Die Roodepoort Teater (voorheen Promusica) het op Saterdag 31 Augustus ‘n unieke eenvrouvertoning in die kelderteater aangebied.

Trek, ‘n verhaal wat teen die agtergrond van die Groot Trek afspeel, is op ‘n unieke manier weergee deur talentvolle aktrise en musikant Gera Phielix. Die Record is genooi om die vertoning mee te maak.

Wat aan die begin voorkom as ‘n klassieke uitbeelding van die probleme wat die trekkerfamilies daagliks ervaar het, het later ontvou in een-derde drama, een-derde komedie en een-derde musiekblyspel.

Gera vertel graag hoe die Trek-konsep ontwikkel het uit haar regisseur Jacques Bessenger se aanvanklike voorstel om “iets oor die Groot Trek te doen”.

“Ek het nie veel daarvan op skool geleer nie en het na daardie geselsie baie opgelees oor die omstandighede, die kaliber mense en die algemene probleme wat hul teëgekom het.”

Wat vir Gera uitgestaan het, vertel sy, is hoe die vrou ‘n leidende rol in die Groot Trek moes speel.

“As ouma se ossewawiel gebreek het, moes sy die osse stop, die stoet tot stilstand bring en self die wiel regmaak.”

Dit is hierdie krag wat vir Gera geïnspireer het om Trek, wat teen die agtergrond van die Groot Trek afspeel, te skryf “om van menseverhoudinge te praat”, spesifiek oor die verhouding tussen vier vrouekarakters. Ouma Johanna, Helena, Magdalena en Kleintjie, onderskeidelik ‘n ouma, moeder, dogter en dienares, het vertel van hulle pyne en plesiere. Hulle vertel hul storie met slegs ‘n rekwisiet of twee en vinnige karakterverwisseling sommer op die verhoog.

“Die rusies en die manier waarop hulle mekaar hanteer en uitsorteer is vergelykbaar met vandag se samelewing en verhoudings,” vertel Gera na die vertoning.

Die Dameskring loop al ‘n tydjie lank die pad saam met Gera op haar Trek-toer, en het haar Roodepoort-optrede aangebied.

“Ons het gevoel dat die verhaal wat vertel word goed by ons sienswyse inpas maar ook dat dit die 175ste herdenking van die Groot Trek vanjaar goed komplementeer.

“Ons is betrokke by die gebeure rondom die produksie en die kaartjieverkope,” vertel Lynn Kruger.

Die volgende vertoning van Trek sal by die Pierneef Teater in Pretoria op Donderdag 5 September om 7 nm begin. Om kaartjies te bespreek, skakel gerus 012 329 0709.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button