Vroue Landbou-unie vier 60ste

Die Roodepoort-tak van die Suid-Afrikaanse Vroue Landbou-unie vier 60ste bestaansjaar met 'n heerlike ete.

Die Suid-Afrikaanse Vroue Landbou-unie (SAVLU) se Roodepoort-tak het hul 60ste bestaansjaar op Saterdag 12 Oktober gevier.

Roodepoort VLU-skakelbeampte Joey du Toit het die Record na die vieringe by die Hervormde Kerk in Georginia Straat, Horison saamgenooi.

“Hierdie tak bestaan al 60 jaar, waarvan ek al 40 jaar lid is,” vertel ‘n trotse Joey terwyl sy die Record-joernalis voorstel aan drie ander jarelange lede by name Kitty Kotze, Annemarie le Roux en Marie van Zyl. Elkeen het ‘n spesiale 40-jaar knopie verdien wat hulle trots op hul lapelle dra.

Estha Veldsma, VLU Roodepoort-voorsitter, het die middag se verrigtinge geopen. Daarna is die VLU-lede en hul gaste deur ma-en-dogter duo Mariaan en Covanni Hohls vermaak. Tussenin is ‘n ligte voorgereg en middagete van hoenderpastei, pampoenkoekies en allerlei groente voorgesit.

“Ons vergaderings bly interessant.

“Ons hou maandeliks vergadering en daar’s elke keer ‘n demonstrasie – jy kan byvoorbeeld leer blomme rangskik of ‘n sekere dis maak.”

Al blyk dit dat dié tak van die een hoogtepunt na die ander beweeg, vertel Joey dat hulle graag nuwe lede verwelkom.

“Ons wil nie hê die VLU moet verlore gaan onder die jong klomp nie, en ek nooi elke jong dame persoonlik om te kom kyk wat ons doen. Hier kan jy jouself verryk.”

Vir verdere inligting kan skakelbeampte Joey du Toit by 011 672 6961 gekontak word.

 

Exit mobile version