![](https://dwu32cgxelq1c.cloudfront.net/local_newspapers/sites/20/2014/05/IMG_979_547909605.jpg)
Die FNB Classic Clash-sportskouspel tussen Marais Viljoen en Hoërskool Florida is glo die hoogtepunt op albei skole se sportkalender.
Albei skole beloof om op dié verhouding op die sportveld voort te bou wanneer talle hokkie-, netbal- en rugbyspelers op Saterdag 31 Mei gaan koppe stamp.
Organiseerders verwag meer as 4 000 mense en toe daar aan die onderskeie skoolhoofde gevra is wie bo gaan uitkom, het albei natuurlik hulle eie skool genoem. Albei het egter gesê dat sport moet seëvier.
“Dis vir ons ‘n spesiale geleentheid, ‘n geleentheid wat reeds ‘n tradisie is. Kragmetings tussen ons twee skole se sportspanne, veral die hokkie-, netbal- en rugby-eerstespanne is spesiaal en belangrik. Die speelveld is altyd gelyk en kompeterend. Ons speel al jare teen mekaar en het ‘n goeie verhouding,” sê Florries se hoof, Marthinus Schutte.
Marais Viljoen se hoof, Martie Heystek meen, “Daar is meer as net sport ter sprake. ‘n Groot getal toeskouers woon altyd hierdie geleentheid by en ondersteun die kinders en skole. Voordat die eersterugbyspanne mekaar pak is daar ook ‘n spesiale seremonie waartydens ek en Florida se hoof die spelers gelukwens. Wanneer hulle op die veld in aksie is, hol die een span ook nie weg met die ander nie. Dit gaan nie ook net oor rugby nie want hokkie en netbal is ook belangrik.”
Wat die eersterugbyspanne aanbetref het die afrigter van Marais Viljoen, Ryno Luus die oë laat rek deur te sê hulle is die buiteperd.
Marais Viljoen se seisoen is bogemiddeld en hulle het reeds vanjaar vir Florries 27-26 geklop. Boonop het hulle beter as Florida in die Tuks-reeks geëindig – in die 10de plek.
Marais Viljoen se ander spogoorwinnings vanjaar sluit in teen Rustenburg en Die Anker asook ‘n kompeterende nederlaag van 12-21 teen Nelspruit (wat uiteindelik derde in die Tuks-reeks geëindig het).
“Ons geskiedenis hier op Florida se tuisveld is glad nie goed nie, daarom sê ek ons is beslis nie die gunsteling nie. Ons wil op die dag goed vaar en ons gaan om te wen,” belowe Luus.
Florries se seisoen kan as uiters teleurstellend beskryf word. Die Rooi Masjien het net twee oorwinnings – oor Klerksdorp en Ermelo – en ‘n 12de plek in die Tuks-reeks om te wys.
Sedert 2010 toe die FNB Classic Clash-verhouding tussen die twee skole ontstaan het, is Florries ver voor. Hul het reeds drie kragmetings gewen en een verloor.
Die aksie begin Saterdag reeds om 8vm en sal omstreeks 1nm eindig.