Local newsNews

Prokureur skryf eerste boek

Sien die Reg in 'n ander lig

Dollars Eventualis, Nico van Rensburg se eerste boek, is op 13 Julie by die Horison Huisteater bekend gestel.

Die gasvrou, Chrisna van Rensburg het ‘n rustige atmosfeer geskep waarin almal gemaklik en ontspanne na die outeur kon luister.

Nico het sy storie met passie en baie humor vertel. Hy is in die Vrystaat gebore, en het regte aan die Noordwes-Universiteit studeer waarna hy sy leerklerkskap in Klerksdorp en King Williams Town gaan doen het. “Die dag toe ek in my tweede jaar van artikelskap ‘n voorlegging moes doen het ek besef ek kan nie Engels praat nie!” het Nico geskerts. Hy het vertel hy wou nog altyd in die Kaap bly en was gelukkig genoeg om in Grahamstad as prokureur te kon werk. Hy het later ‘n praktyk in Saldanha begin.

“Ek het net met my nuwe Fiat en army kit Saldanha toe gegaan en ‘n praktyk begin. Na ‘n paar maande het die dominee vir my gesê ek moet die maatskaplike werkster uitneem vir tee. Die einde van die jaar is ons getroud.”

Hy het egter terugverlang Transvaal toe en het vir ‘n kort rukkie ‘n praktyk in die Vaaldriehoek bestuur waarna hy terug is Johannesburg toe om daar te praktiseer.

“Skryf was nog altyd ‘n stokperdjie en ek het besluit ek wil graag ‘n boek skryf. Nie ‘n regsboek nie, maar ‘n lekkerlees-boek.”

Hy het ‘n aanlyn-skryfkursus deur die SA Vryskutskrywer begin maar soos hy deur die kursusmateriaal gewerk het, het hy besef hy kon skryf en het ‘n storie aan die organisasie gestuur. “Ek het ‘n paar keer die storie teruggekry met veranderings wat aangebring is. Daarna het die vrou van die organisasie vir my gesê sy gaan my geld hou en my stories redigeer. Ek hoef nie die kursus te voltooi nie.”

Nico het al sy stories bymekaar gesit en dit aan die einde van verlede jaar vir Naledi-uitgewers gestuur. “Waar dit gewoonlik tot ses maande duur voordat ‘n uitgewer jou kontak, het hulle my tussen Kersfees en Nuwejaar laat weet hulle hou van my idee en vir my ‘n redakteur aangestel.”

Al Nico se staaltjies strek van die jare 70 tot heel onlangs, en sluit plekke van oor die hele land in. Hy was óf self betrokke óf dra direkte kennis van al die stories wat in die boek opgeneem is, wat sy passie vir behoeftige en mense in nood kenmerk.

Van sy stories sluit in die oom wat ‘n verrassing vir sy familie in sy testament nagelaat het, die dominee wat uitgevang is toe hy ‘bulpille’ by die apteek gesteel het en die man wat nie die definisie van dolus eventualis gesnap het nie, wat dan ook die inspirasie vir die titel van die boek was. Dolus evantualis beteken dat jy van moord aangekla kan word as jy geweet het jou aksies kon tot iemand se dood gelei het.

Chrisna het die boek so opgesom: “Dit is ‘n lekkerlees-boek, die stories is kort en kragtig, net reg vir die persoon wat iets lig wil lees voor slaaptyd.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button