‘n Toer om te onthou

Kriekettoernooi was vir Thristan 'n groot hoogtepunt

Vir die 11-jarige Thristan Cronjé was die geleentheid om vir die Gauteng A-meisieskrieketspan te speel, ‘n groot hoogtepunt.

Thristan is verlede jaar as ‘n lid van die Gauteng A-meisieskrieketspan aangewys. Sy het, saam met 12 ander meisies van verskillende skole in die provinsie, aan die streektoernooi deelgeneem wat in KwaZulu-Natal aangebied is.

Sy het vertel dat sy aan die begin van die toernooi nogal skrikkerig was, want sy was onseker oor presies wat gaan gebeur, maar soos die toernooi gevorder het, het sy rustiger geraak. “Ek het die hele toernooi baie geniet en die wedstryde was vir my nogal lekker. Ek was baie tevrede met hoe ek gespeel het, en voel ek het my bes gelewer,” het Thristan gesê.

Haar ma, Thana het vertel dat hulle vir ondersteuning saam met Thristan gegaan het, maar net toegelaat is om die wedstryde by te woon. “Ons mag hulle nie by die koshuis waar hulle as span saam gebly het, besoek het nie, en kon net na wedstryde met hulle gesels. Maar dit was ‘n ongelooflike ervaring, en ek is baie dankbaar dat ons daar kon wees om haar te ondersteun,” het Thana gesê.

Die een wedstryd wat Thristan en haar ma altyd sal onthou, is die een teen die KwaZulu-Natalse span. “Gauteng kon vir vier jaar nog nie die span wen nie, en hierdie spesifieke wedstryd was baie senutergend. Maar die Gauteng-meisies het kop gehou en ongelooflike spanwerk aan die dag gelê om as wenners weg te stap. Die Gauteng A-span was ook die toernooiwenners,” het ‘n trotse Thana vertel.

Thristan het gesê dat die hele toernooi vir haar ‘n baie lekker ondervinding was waar sy nuwe maats gemaak het. “Dit was vir my baie lekker en ek sal dit enige tyd weer doen, sonder om twee keer te dink!” het sy gesê.

Maar vir haar stop dit nie hier nie en daar is baie doelwitte wat sy vanjaar wil bereik. “Ek wil goed doen met my spiesgooi en diskus. Ek het die D12-hokkiespan gehaal en wil graag baie goed doen daar. Dan wil ek ook probeer om weer vir die provinsiale krieketspan gekies te word,” het sy met ‘n glimlag gesê.

Thana het vertel dat sy baie trots is op Thristan se prestasies – op sport- en akademiese gebied – en glo die toernooi het baie beteken. “Ek glo sy het baie geleer, al was sy soms baie senuagtig en onseker. Sy het haar man gestaan in die span, al was sy die jongste speler. Sy het meer van haarself geleer as van krieket, en dit voel vir my asof sy oornag groot geword het,” het Thana met ‘n groot glimlag gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version