Bejaardes ontvang die geskenk vir ‘n goeie nagrus
Roodepoort Sentrum vir Bejaardes ontvang kussings van Tempur

“Wanneer dit by die sentrum se uitgawes kom, dink ons altyd eerste aan kos en mediese onkostes. Beddegoed kom altyd tweede.”
Dit was die woorde van die Roodepoort Sentrum vir Bejaardes (RSVB) se bestuurder, Jolene Peyper nadat die sentrum kussings van Tempur ontvang het.

Kobus Rousseau, bemarker by Tempur, het vertel dat hulle jaarliks ‘n liefdadigheidsprojek loods waartydens klante hul ou matrasse en kussings kan inruil en dan afslag op nuwes kry. “Die naam van die projek is 100 Backs on Beds en dit duur van 1 Desember tot 28 Februarie. Ons identifiseer dan instansies wat ‘n behoefte aan matrasse en kussings het, en skenk dit wat ons ontvang het aan hulle,” het hy gesê.

Die kussings is op 15 Februarie aan die sentrum oorhandig. “Daar is gewone asook spesiale kussings tussen die skenkings. Van die kussings help om nekprobleme te verlig. Dit kan ook gebruik word om op te sit, veral vir die bejaardes wat in ‘n rolstoel is, en help om druksere te verlig,” het hy gesê.
Engela van der Merwe, wat jaarliks – uit haar eie sak – vir die inwoners van die sentrum Kerspakkies opmaak en uitdeel, het RSVB as begunstigde geïdentifiseer. “Ek het van die inisiatief op Facebook gelees en wou oorspronklik die kussings saam met Engela se Kerspakkies kom uitdeel, maar ons het toe nog nie genoeg gehad nie. Ons het toe besluit om die oorhandiging so te reël dat dit by Valentynsdag aansluit,” het Kobus gesê.

Hulle het ook kolwyntjies vir die sentrum se inwoners gebring. “Dit is ons manier om iets vir die gemeenskap terug te gee,” het Kobus met ‘n breë glimlag vertel.
Lizbe von Moltke, maatskaplike werker by RSVB het gesê dat hulle innig dankbaar is oor die mooi gebaar. “Toe die maatskappy my geskakel het om te vra of ons kussings nodig het, kon ek net sê ‘ja, ja, ja!’ Dit is definitief ‘n groot behoefte by die sentrum, en sal vir seker gebruik kan word,” het sy gesê.
“Dit is wonderlik dat Tempur aan ons gedink het. Daar is soveel ouetehuise wat ook ‘n groot behoefte en nood het. Die 200 kussings wat ons vandag ontvang het, is baie welkom. Dit is ‘n basiese behoefte waarin die sentrum moet voorsien, maar ons kan dit nie altyd bekostig nie. Die kussings is van ‘n baie goeie kwaliteit en dit sal definitief die lewe vir ons inwoners ‘n bietjie makliker maak,” het Jolene gesê.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!