Om marionette te laat lewe is nie speletjies nie, maar ‘n kuns. Volgens Antoinette Snyman is dit een wat besig is om uit te sterf.
Antoinette, 64, speel al vir die afgelope 50 jaar pop en is die hande agter bekende poppe soos Liewe Heksie, Mina Moe en Sarel Seemonster.
Volgens haar was sy ‘n talentlose, eenkantkind met ‘n ernstige spraakprobleem. “Ek was baie skaam en teruggetrokke omdat ek vreeslik gehakkel het. Ek kon nie mooi sing, dans, of naaldwerk doen nie en was ook nie baie kunstig nie. Al waarin ek goed was, was Wiskunde en Wetenskap,” het sy vertel.
Sy het altyd geglo sy sou óf ‘n wiskundige óf ‘n wetenskaplike word, en haar droom was altyd om ‘n onderwyser te wees. “Ek het op 15-jarige ouderdom matriek geskryf en moes begin werk. Ek het by die Stadskouburg aansoek gedoen, maar het weens my spraakprobleem nie die werk as kaartjieverkoper gekry nie. Die eienaar het vir my gesê hy het vir my ‘n werk waar ek met my hande en hart kan praat,” het sy gesê.
Dit is waar sy geleer het om marionette te manipuleer, en sy het haar hele wese in dié kunsvorm gestort. “Toe ek die eerste keer die marionette gemanipuleer het, het ek geweet die poppe gaan my lewe wees,” het sy met ‘n glimlag vertel.
Antoinette – wat glo sy moet in beheer van alle aspekte van haar diverse vakgebied wees – het as onderwyser gekwalifiseer en vir vyf jaar skoolgehou. Sy het haarself geleer om marionette te maak, was vir 40 jaar lank ‘n joernalis en het ook televisieprogramme vervaardig.
Kyk na die video van Liewe Heksie hier:
https://www.youtube.com/watch?v=HTegvlKKGqI&feature=youtu.be
Nadat sy haar hele lewe in ‘n ateljee spandeer het, het sy besluit om die poppe na die mense te neem. “Ek het ‘n teater by die Universiteit van Johannesburg gehad, maar dit was nie die ideale plek vir so iets nie. Ek het toe besluit om ‘n skool aan die Wes-Rand te soek waar ek die poppekuns vir mense – veral kinders – kan leer. Ek het Hoërskool Roodepoort genader, en hulle het ingestem om my by die skool te akkommodeer,” het sy vertel.
Dis hier waar sy die kuns van marionette vir ander wil leer. “Die poppekuns is ‘n jaloerse kuns. Niemand wil iemand anders leer nie. Dit is ‘n kuns wat aan ‘t uitsterf is. Poppe is gemaak om mee te speel, nie om in ‘n museum te wees nie. Dit moet vir kinders vreugde bring. Ek wil graag my kennis aan ander oordra sodat die kuns nie uitsterf nie. Ek wil ‘n legacy agterlaat,” het sy gesê.
Antoinette het gesê dat haar passie by die gemeenskap lê, en die feit dat die skool gewillig is om haar poppe te huisves en haar die geleentheid te gee om die kuns te kan oordra, vir haar wonderlik is. “Ek het vreeslik baie planne – wat ek nog nie kan bekend maak nie – maar ek kan dit nie sonder hulp implementeer nie. Ek het onlangs van Naomi Scheepers gehoor. Sy dien haar gemeenskap ten spyte van ‘n siekte wat veroorsaak dat sy van ‘n rolstoel afhanklik is. Sy is vir my ‘n groot inspirasie en dryfkrag, want as sy haar gemeenskap kan dien, kan ek ook,” het sy vertel.
Antoinette nooi enigeen wat meer oor die marionette en haar planne te wete wil kom om haar te kontak by 072 128 4907.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!