
Internasionale krieketwedstryde is altyd ‘n belewenis, maar dis soveel meer spesiaal as jy saam met die spelers op die veld kan wees wanneer die Volkslied gesing word.
Vyf leerders van Laerskool Dr Havinga – almal tussen die ouderdom van agt en 13 jaar – het op 4 Februarie hierdie kans gekry. Die meisies, wat almal deel van die skool se meisieskrieketspan is, is deur die Gauteng Krieketraad genooi om die Proteas op die veld te vergesel, en saam die Volkslied te sing.
Een van die meisies, Charmaine van Rooyen het vir die Record van haar ondervinding vertel. “Dit was so ‘n groot voorreg om vir die geleentheid gekies te word! Die wedstryd wat op Wanderers gespeel is, was tussen die Proteas en Sri Lanka en wat hierdie wedstryd so besonders gemaak het, is dat hulle tydens die wedstryd geld vir borskanker ingesamel het. Die Proteas het dié dag in pienk gespeel – nie groen soos gewoonlik nie,” het sy opgewonde gesê.
Sy het vertel dat hulle, met hul aankoms by Wanderers, soos eregaste behandel is. Lede van die Gauteng Krieketraad het hulle na die raadsaal vergesel waar hulle verversings geniet het en pienk hemde gekry het wat hulle tydens die verrigtinge gedra het. “Dit was nogal stresvol, want alles is so professioneel gedoen. In die kleedkamer het ons die spelers bespreek en vreeslik gegiggel oor die toeskouers se klere. Dit was eintlik maar net omdat ons so senuagtig was,” het sy skamerig vertel.
Charmaine was baie opgewonde toe die groot oomblik aangebreek het om die spelers te ontmoet. “Hulle is aan ons voorgestel en elkeen van hulle moes ‘n meisie kies wat saam met hulle op die veld sou verskyn. Imran Tahir het my gekies, en ek was so bly, want ek wou vreeslik graag by ‘n Protea-speler staan,” het sy gesê.
Dit was vir haar ‘n groot oomblik toe hulle saam met die spelers uitgestap het. “Ek en Imran het oor my groot liefde vir krieket gesels. Al die mense en televisiekameras het my baie klein laat voel en ek moes myself kalm hou. My grootse vrees was dat ek die woorde van die Volkslied gaan vergeet!” het sy laggend gesê.
Maar, toe die musiek begin speel het sy, Shanté, Mercia, Jenna-veé en Wanita uit volle bors saamgesing – en gehoop dit sou die Proteas aanspoor om te wen. “Dit was so ‘n groot eer, maar ook so vinnig verby,” het sy gesê.
Hulle kon saam met hul ouers na die wedstryd kyk, en het elkeen boonop ‘n heerlike kospakkie gekry. “Wat ‘n dag! Om voor al die mense op die veld te stap en die Volkslied saam met die spelers op die veld te kon sing, was fantasties! Dit was heerlik om al die spelers te ontmoet en ‘n geselsie met hulle aan te knoop. Hulle is almal so nederig, en het ons aangespoor om hard te werk en krieket ten volle te geniet,” het sy afgesluit.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!