
Onderwysers en leerders van Laerskool Helderkruin het onlangs meer oor herwinning en die voordele daarvan geleer.
Almal het met aandag na elke woord van Ronnie Recycler (Mpact se gelukbringer) en Yasmeen Adam (‘n verteenwoordiger) geluister.
Die skool het ook ‘n groen Ronnie Bank ontvang. “Ronnie het die geleentheid gebruik om die leerders aan te moedig om die houer weekliks met herwinbare items te vul,” het Hanli-Mari Olivier, die skool se kommunikasiebeampte gesê.
Elke leerder het ook ‘n groen Little Ronnie Bag ontvang en hulle is aangemoedig om die sakkie te vul en so te help om die groen Ronnie Bank te voer. Die Ronnie Recycler Skoolprogram is ook tydens die besoek geloods.
Die program stel skole in staat om geld in te samel met hul herwinbare items en die terselfdertyd omgewingsbewustheid, -verantwoordelikheid en -volhoubaarheid by die leerders te kweek. Leerders is ook geleer dat herwinning tot voordeel van die omgewing is, omdat minder herwinbare papier dan op stortingsterreine beland.
Die herwinbare items waarmee die houer volgemaak kan word, sluit enige vorm van papier in – wit of gekleur, koerante, tydskrifte, ou briewe en memorandums, kartonbokse (plat gevou), fotostaatpapier, ou telefoongidse, ou skool- en handboeke, koeverte, gemorspos en katalogusse asook platgevoude melk- en sapkartonne.
Tydens die Mpact Herwinningskompetisie wat van Februarie to September duur, gaan Laerskool Helderkruin ‘n maandelikse papierveldtog hou. “Ons moedig alle leerders en hul ouers, sowel as die gemeenskap en besighede aan om vir ons al hul oortollige papier, tydskrifte, koerante ensovoorts na die skool toe te bring om herwin te word. Ons het almal se bydrae nodig om ons doel tydens dié kompetisie te bereik,” het Hanli-Mari gesê.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!