“Ek was so verlig toe hulle my naam uitlees, want ek het baie hard daarvoor gewerk.”
So sê die 14-jarige Zané Bekker van Hoërskool Florida oor haar deelname aan die afgelope Talent Africa kompetisie by die Roodepoort Teater.
“Ek het ‘n solo item, sowel as twee groep items gedoen, en vir al drie goue medaljes verwerf. Ek het ook in al die items vir deelname aan die Talent America kompetisie in New York gekwalifiseer,” het sy trots vertel.
Maar, vir Zané sal dit nie moontlik wees om in Julie aan die kompetisie te gaan deelneem nie. “Ek sou baie graag wou gaan, maar finansieel is dit nie moontlik nie. My sussie, Dedré, het ook gekwalifiseer en dit kos omtrent
R60 000 per persoon om New York toe te gaan,” het sy vertel.
Haar pa, Attie Bekker, het bygevoeg, “Hoe stuur jy ‘n 14-jarige kind alleen oorsee? Een van ons sal moet saam gaan, wat nog ‘n ekstra R60 000 beteken.”
Maar vir Zané is dit nie die einde van die wêreld nie. “Ek voel bietjie hartseer dat ek nie sal kan gaan nie, maar is steeds baie trots op myself en die feit dat ek die prestasie kon behaal. Daar sal wel gedurende die jaar ander kompetisies in Suid-Afrika wees waaraan ek sal kan deelneem,” het sy vertel.
Sy dans al ses jaar lank by die Fusion Dance Studio en sê dat dans haar passie is, maar dis nie al wat sy doen nie. Sy vertel dat sy ook hokkie speel, aan koor en drama deelneem en ook genoeg tyd inruim om op haar akademie te fokus. “Ek het nogal ‘n baie besige program en probeer om ‘n balans tussen my akademie, sport en kultuur te handhaaf. Wanneer ek so bietjie vrye tyd het, hou ek daarvan om te lees, musiek te luister en tyd saam met my gesin deur te bring,” het sy met ‘n breë glimlag vertel.
Zané sê dat as jy in jouself glo, jy enigiets kan doen. “As jy iets wil hê, moet jy dit aangryp. Al sê mense vir jou jy kan nie, glo in jouself en jou vaardighede. Vertrou op jouself en op God,” het sy gesê.
Sien video hier:
‘n Paar vinige feite oor Zané:
• Haar gunsteling kleur is blou, en dit is ook geen geheim dat sy ‘n trotse Blou Bul rugby ondersteuner is nie
• Sy sal enige dag dans bo hokkie kies
• Haar gunsteling fliek is Step Up All In, gunsteling boeke is enigiets van Jaco Jacobs, en haar beste liedjie is Faded van Allan Walker
• As dit by kos kom, is daar nie ‘n dis wat haar ma se pasta kan klop nie
• Sy is ook baie lief vir skool, en haar gunstelingvak is Afrikaans
• Sy is mal oor kampeer en haar gunsteling vakansiebestemming is enige plek in die Bosveld
• Sy is baie lief vir water en haar gunsteling gemorskos is sjokolade
• Sy beskryf haarself as iemand met baie selfvertroue wat daarvan hou om te babbel. Sy voel sy is baie gelukkig met haarself en sou nie iets wou verander nie;
• As sy enige dier kon wees, sou sy ‘n leeu wou wees. “Leeus is baie braaf en wys dat jy nie net moet dink jy is die een nie, jy moet weet jy is,” het sy laggend vertel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!