Bederfoggend vir bejaardes
Damesoggend ten bate van Roodepoort Sentrum vir Bejaardes

Die Roodepoort Sentrum vir Bejaardes se Damesoggend was ‘n heerlike geleentheid waartydens vroue kon saamkuier terwyl hulle verversings en goeie vermaak geniet.
Die sentrum het Saterdag (20 Mei) ‘n funksie ten bate van die sentrum by die NG Kerk Constantiakruin se kapel gehou. “Honderd en veertig vroue is met ‘n motiveringspraatjie, sang en musiek bederf,” het Lizbe von Moltke, die sentrum se maatskaplike werker gesê.

Die gaskunstenaars vir die oggend was Esté Pienaar en Henry van Dyk, wat vir die vermaak gesorg het. “Esté het die vroue by tye laat skaterlag met komiese staaltjies uit haar lewe, maar sy het hulle ook na hul snesies laat gryp tydens haar vertellings van die lewenslesse wat haar gevorm het,” het sy gesê.

Henry se sangstem en liedjies het die voete laat jeuk en die dames het die vertoning terdeë geniet. “Met sy ongelooflike stem het hy die oggend nog mooier kom inkleur en afrond,” het Lizbe vertel.
“Hierdie pragtige oggend vol bederf sal voorwaar as een van die hoogtepunte op die Roodepoort Sentrum vir Bejaardes se 2017-kalender onthou word,” het Lizbe afgesluit.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!