Editor's choiceLocal newsNews

Ouderdom vir hulle ‘n seën

Om ouer te word vir hulle 'n voorreg

“Om ouer word is ‘n voorreg wat nie vir almal beskore is nie, en juis daarom kan ons met groot trots sê ons het 45 inwoners tussen die ouderdom van 90 en 105 jaar.”

So het Lizbé von Moltke, die Roodepoort Sentrum vir Bejaardes (RSVB) se maatskaplike werker gesê. “Tien van hierdie inwoners is ‘n geseënde 95 jaar en ouer, en dan het ons ook drie inwoners wat reeds 100 en ouer is,” het sy bygevoeg.

Die meerderheid van hierdie inwoners het nie ‘n spesifieke geheim vir hul hoë ouderdom nie, maar glo dit is net deur die Here se genade. “Dit is maar net genade, dit is al. Natuurlik help dit ook om ‘n matige lewe te lei. As jy liefde en vriendskap het, is dit ‘n bonus,” het die 98-jarige Willie van den Bergh gesê.

Lizbé glo dat die goeie versorging wat die inwoners by die sentrum ontvang, definitief bydra tot hul hoë ouderdomme, maar dat dit nie die hoofrede is nie. “Elkeen van hierdie inwoners glo dat hul geloof in God, liefde van hul kinders en familie, harde werk deur die jare asook ‘n gesonde leefstyl bydraende faktore is. Baie van die inwoners glo ook nog daaraan om aktief te bly deur die dag, hetsy deur te lees, brei, blokkiesraaisels te voltooi of in die tuin te werk, en dit speel beslis ‘n groot rol,” het sy gesê.

Rose Binda sal in Augustus haar 105de verjaardag vier.

Rose Binda sal in Augustus vanjaar haar 105de verjaardag vier, en is die oudste RSVB-inwoner. Haar geheim? “Om tevrede te wees met jou lewe, fisies asook geestelik,” het sy gesê.

Marie Gardiner sal 103 jaar oud word in Desember.

Marie Gardiner sal in Desember 103 jaar oud word en het vertel dat dit nie maklik is om so ‘n hoë ouderdom te bereik nie. “Ek het my hele lewe lank baie hard gewerk, en glo dat dit my sterk gemaak het,” het sy gesê.

Babs van Coller vier in Oktober haar 102de verjaarsdag.

Babs van Coller vier haar 101ste verjaarsdag in Oktober en het gesê dit voel of sy net gister 100 jaar oud geword het. “Ek is dankbaar vir elke dag wat die Here vir my ekstra gee. Ek sou nooit hier gewees het sonder Hom nie,” het sy vertel.

En, alhoewel elkeen van hierdie inwoners al ‘n leeftyd van geluk, swaarkry, harde werk en soms hartseer agter die rug het, is elkeen van hulle dankbaar dat hulle nog ‘n dag en geleentheid om te lewe gegun is. “Elkeen van hierdie inwoners glo daaraan om elke dag met albei hande aan te gryp, en elke uitdaging aan te pak soos dit kom. Mag hulle vir die gemeenskap ‘n voorbeeld wees wat hulle graag sal wil volg,” het Lizbé gesê.

Vir meer foto’s, kliek hier.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button