Ouma vra net normale lewe vir kleinseun

"Hy het nog nooit 'n paar skoene aan sy voetjies gehad nie"

“Ek bid elke aand vir ‘n uitkoms, sodat Nathan die operasie kan ondergaan en ‘n normale lewe kan lei,” het ‘n moedelose Seloné van Aswegen gesê.

Haar kleinseun, Nathan Ungerer is met ‘n defek gebore wat glo by een uit ‘n miljoen babas voorkom. Selfs dokters het gesê dat hulle nog nooit so ‘n probleem in hul loopbane gesien het nie. Seloné het vertel dat hulle net na sy geboorte opgemerk het dat daar ‘n probleem met sy linkervoet was. “Aanvanklik het die mediese personeel vir ons gesê dat ons ses maande moet wag en kyk of die situasie verbeter. Nathan is nou ‘n jaar en vier maande oud, en dit word by die dag erger,” het sy gesê.

Nathan Ungerer ly aan ‘n seldsame voettoestand. Foto’s: Verskaf

Intussen was hulle by ‘n paar ander dokters wat Nathan se situasie aan hulle verduidelik het. “Volgens die dokters, is al die beentjies in Nathan se voet teenwoordig, maar omdat die limf nie na die res van sy liggaam terugvloei nie, is daar ‘n oormaat suurstof in die voet wat die beentjies vinniger laat groei. Nathan sal ‘n operasie moet ondergaan om die beentjies te laat verkort voordat rekonstruksie aan die voet gedoen kan word,” het Seloné vertel.

Die gesin het vir mediese hulp by die staatshospitale aangeklop, maar hulle het heelwat terugslae beleef, insluitend dat toerusting by die hospitale buite werking is. “Die plastiese chirurg by Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal het vir ons gesê dat die voet met ‘n operasie herstel kan word, maar hy kan nie met die behandeling voortgaan voordat hy die uitslae van die MRI-skandering het nie. Die toerusting by Rahima Moosa Mother and Child-hospitaal, sowel as Charlotte Maxeke-hospitaal is sedert April buite werking,” het sy moedeloos gesê.

Dokter James van der Merwe, ‘n plastiese chirurg by Life Wilgeheuwel Hospitaal, het die gesin ingelig dat die operasie ongeveer R120 000 sal kos, maar hulle kan dit nie bybring nie. “Ek is die enigste broodwinner in die huis en het die familie se hulp gevra, maar hulle kan ook nie ‘n geldelike bydrae gee nie,” het sy gesê.

Nathan Ungerer se regtervoet swel by die dag meer.

Nathan het onlangs begin loop, maar hy is baie onvas op sy voete en val gereeld om, omdat hy op die geaffekteerde voet se hak loop. “Die voetjie groei elke dag net meer, en Nathan sukkel om te loop. Die dokter reken dat die operasie so gou as moontlik gedoen moet word, want hy waggel ook as hy loop, en dit kan tot heupprobleme lei,” het sy hartseer gesê.

Uit radeloosheid het Seloné die Child Medi Organisasie genader vir hulp. “Daar is mense wat sê dat ons eerder die voetjie moet laat afsit en dit takel ons emosioneel af. Ek bid elke aand vir ‘n uitkoms, sodat Nathan die operasie kan ondergaan en ‘n normale lewe kan lei. Hy het nog nooit ‘n paar skoene aangehad nie. Maar, ondanks sy toestand, glimlag hy altyd,” het sy vertel.

Om ‘n bydrae vir Nathan te maak, kontak Amor van die Child Medi Organisasie by 062 266 0486, besoek hul webtuiste by www.childmedi.org of gaan na die Facebook-blad https://www.facebook.com/childmedi.org/?fref=ts.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version