Cora trek haar drafskoene uit
Cora tree na 32 jaar as atletiekafrigter af
![](https://dwu32cgxelq1c.cloudfront.net/local_newspapers/sites/20/2017/08/IMG_4239_20707.jpg)
Cora Coetzer het na 32 jaar as hekkiesafrigter, besluit om die tuig neer te lê en die voordele van aftrede te geniet.
Alhoewel sy sou verkies het om dit so stil as moontlik te doen, was dit haar nie beskore nie. Lindie Jacobs, die ma van een van Cora se atlete het, met die hulp van ander ouers en vorige atlete, ‘n afskeidsfunksie vir Cora gereël.Die funksie het by Laerskool Helderkruin se lapa plaasgevind, en is bygewoon deur huidige atlete, hul ouers, sowel as atlete wat tevore by Cora afrigting ontvang het.
![](https://roodepoortrecord.co.za/wp-content/uploads/sites/20/2017/08/IMG_4243_71424-520x390.jpg)
Cora het in 1985 by Hoërskool die Adelaar met afrigting begin en na vyf jaar haar eie atletiekklub geopen. Toe die klub doodloop, het sy besluit om privaat afrigting te doen, en sy het talle provinsiale en nasionale atlete opgelewer.
Almal wat die afskeidsfunksie bygewoon het, het saamgestem dat Cora een van dié beste hekkiesafrigters was en dat hulle haar baie gaan mis. Ezna Esterhuizen het ‘n kort toespraak gelewer waarin sy Cora vir al die jare se harde werk bedank het. “Tannie het altyd seker gemaak dat ons ons volle potensiaal bereik. Ons is ook altyd met baie liefde en geduld aangemoedig om ons beste te lewer,” het Ezna gesê.
![](https://roodepoortrecord.co.za/wp-content/uploads/sites/20/2017/08/IMG_4241_90276-520x390.jpg)
Na die toesprake en bedankings is Cora se afskeidsgeskenk aan haar oorhandig. Toe sy dit oopmaak en sien dat dit ‘n kombers was met foto’s daarop van al die atlete wat sy die afgelope 32 jaar afgerig het, kon sy haar trane nie keer nie. “Baie, baie dankie vir hierdie mooi geskenk, dit is baie spesiaal en ek sal dit altyd koester,” het sy deur die trane gesê.
Die dag se verrigtinge is met ‘n gesellige braai afgesluit.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!