Swannie trek die toutjies, en die poppe dans!
Plaaslike poppemeester gaan in Taiwan optree
![](https://dwu32cgxelq1c.cloudfront.net/local_newspapers/sites/20/2017/09/10563048_1015338968_06424.jpg)
Johan Swanevelder, ‘n Wilropark-inwoner is mal daaroor om die toutjies te trek en die poppe te laat dans.
Ek mag dalk nie die beste marionetmeester wees nie, maar ek dink ek is die passievolste!” het Johan gesê.
Dié 46-jarige inwoner van Wilropark is een van vier Suid-Afrikaanse poppemeesters wat later vanjaar in Taiwan gaan optree en werkswinkels aanbied. Swannie (soos hy bekend staan) vertrek op 13 Oktober en sal vir ‘n maand lank Afrika na die Ooste neem met sy marionette. “My leuse is dat jy jou wêreld kan verander deur stories te vertel. Dit was nog altyd een van my grootste drome om Afrika, met ‘n paar Afrika-verhale en die manier waarop ons poppeteater doen, na die Ooste te neem,” het hy met ‘n glimlag gesê.
![](https://roodepoortrecord.co.za/wp-content/uploads/sites/20/2017/09/1505995_10153389693_29444-520x390.jpg)
Hy het vertel dat hy – vandat hy kan onthou – ‘n kunstenaar was en hy beskou homself as die ewige student en ‘n aktiewe leerder. Sy spesialiteitskunsvorm is marionette en Muppet-tipe poppe. Hy is boonop ‘n stemkunstenaar en ywerige skrywer.
Swannie is ‘n opgeleide NG Kerk-predikant en ‘n voormalige drama-onderwyser. Hy bied al die afgelope vier jaar voltyds poppeteater aan.
Al was hy van jongs af lief vir alles wat met poppe en poppespel verband hou, het hy eers later in sy lewe die kunsvorm op ‘n meer formele vlak begin leer by Suid-Afrikaanse poppemeesters soos Toby von Eyck, Alida von Maltitz en Antoinette Snyman. In die jaar 2000 het hy ‘n lid geword van die Puppeteers of America-organisasie en is ook ‘n aktiewe lid van die wêreldwye Puppet Hub vir poppespelers.
![](https://roodepoortrecord.co.za/wp-content/uploads/sites/20/2017/09/taiwan05_42757-520x390.jpg)
Swannie is ‘n teaterskepper met sy eie produksiemaatskappy en bied ook die afgelope 16 jaar dramaklasse by verskillende instansies aan. “Een van my passies is om mense te bemagtig om teater in hul gemeenskappe te skep en sodoende ‘n inkomste te genereer. Ek is tans besig om vir volwassenes regoor Suid-Afrika die vaardighede te leer om tekste te skryf en hul eie teaterstukke te vervaardig,” het hy gesê.
Hy tree gereeld by die plaaslike kunstefees, skole, kerke, winkelsentrums, motiveringsgeleenthede en preprimêre skole op, waar hy oud en jonk vermaak.“Ek het al heelwat hoogtepunte in my loopbaan beleef, soos om saam met legendes soos Gert van Tonder en Louise van Niekerk te werk, deur Israel te toer, vir drie maande by die Oprah Winfrey-skool in Henley-on-Klip te werk, in 2011 ‘n Internasionale Marionet-fees in Taiwan aan te bied en in 2014 by ‘n jeugfees in Nigerë op te tree. Ek is ook ‘n gereelde poppespeler by die Namibiese Nasionale Teater, en nou kan ek my grootste droom bewaarheid – Afrika ontmoet die Ooste!” het hy afgesluit.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!