Florries se hoof groet na 25 jaar

“Eers wil ek net vir ‘n maand rus”

 

Na 25 jaar groet Laerskool Florida hul skoolhoof, Francois du Toit, wat aan die einde van die jaar aftree.

Francois, 65, se onderwysloopbaan het op 1 Januarie 1975 by Hoërskool Windhoek in Namibië begin, en nou, 42 jaar en vele ondervindings later, lê hy die tuig neer.

Hy was van 1980 tot 1985 die Departementshoof van Afrikaans by Hoërskool Vorentoe, van 1986 tot 1992 die hoof by JCE se sentrum vir begaafde leerders en is in Januarie 1993 as die hoof van Laerskool Florida aangestel.

Gedurende hierdie tydperk was hy ook die Voorsitter van Sentraal-Wes Atletiek en Rugby, het op Unisa se raad gedien, was ‘n lid van die Roodepoortse Stadsraad en die Voorsitter van die Afrikaanse Kunsvereniging (Rak).

Vir Francois is een van die hartseerste dinge dat kinders nie meer kinders kan wees nie. “’n Goeie voorbeeld hiervan is die pragtige groot fietsloods wat ons 25 jaar gelede hier gehad het, want die meerderheid van die leerders het met fietse skool toe gery. Nou het ons glad nie meer ‘n fietsloods nie, want kinders ry nie meer fiets nie. Dit is vir my hartseer dat ons kinders nie meer die geleentheid het om kinders te wees nie, omdat volwassenes die wêreld verander het,” het hy gesê.

Hy het gesê dat hy vele hoogtepunte op sport-, kultuur- asook akademiese gebied as die hoof van Laerskool Florida beleef het. “Maar die omgee en betrokkenheid van elk personeellid is definitief iets wat ek altyd sal onthou. Elke leerder is as individu erken, en die geleentheid gegun om aan soveel aktiwiteite as moontlik deel te neem om deure vir hulle oop te maak. En, net soos 25 jaar gelede, het elke personeellid toegewy gebly aan akademie,” het hy met ‘n glimlag gesê.

Hy het vertel dat hy die leerders, personeel en ouergemeenskap die meeste gaan mis, maar dat hy daarna uitsien om hierdie Desember rustig te spandeer, sonder om bekommerd te wees oor die volgende skooljaar se beplanning wat gedoen moet word. “Ek is ‘n oupa van vier pragtige kleinkinders, en ek gaan definitief meer tyd saam met hulle kan spandeer. Maar, vir eers, sien ek daarna uit om vir minstens ‘n maand net rustig te wees en niks te doen nie,” het hy laggend vertel.

Hy het met die volgende woorde afgesluit, “Ons moet almal hard werk en leer om van gister en eergister te vergeet – ons kan niks daaraan verander nie.

Ons het net ‘n kort, beperkte tyd op aarde wat ons gegun is en ons moet dit in geloof, hoop en liefde leef – geloof om die mooi van elke dag te sien, hoop om in liefde met mekaar te kan saam leef, en liefde om elkeen wat ons pad kruis met liefde te kan hanteer sodat dit beter in ons land kan gaan. Om suksesvol te wees, moet ons nie aanhoudend in die verlede lewe en die foute van gister oor en oor op die tafel plaas nie.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version