’Ons kan nie wag om sy eerste paar skoene te koop nie’
'Volgens die chirurg sal dit nie nodig wees om sy voet te amputeer nie’

“Met hierdie nuus weet ons dat 2018 ‘n baie goeie jaar gaan wees, en ons is gereed om die bul by die horings te pak.”
So het Selona van Aswegen gesê nadat hulle die goeie nuus ontvang het wat haar kleinseun se lewe gaan verander. “Nadat ons die MRI-skandering in Oktober verlede jaar laat doen het, het die dokters by die staatshospitaal vir ons gesê dat Nathan se voet geamputeer moes word. Ek het geweier om dit te aanvaar, en ons het ‘n tweede opinie gekry,” het sy vertel.
Lees die oorspronklike artikel hier: Ouma vra net normale lewe vir kleinseun

Dokter James van der Merwe, ‘n plastiese chirurg by Wilgeheuwel Hospitaal het ingestem om Nathan te ondersoek, en het voorgestel dat hulle ‘n biopsie doen. “Die biopsie het bevestig dat sy voet groei as gevolg van ‘n vetgewas wat tydens swangerskap in die embrio ontstaan het. Dit gebeur glo baie selde, maar die dokter het gesê dit kan kleiner gesny word,” het Selona gesê.
Dié gewas het veroorsaak dat Nathan Ungerer (20 maande) se linkervoet baie vinniger as sy regtervoet gegroei het. “As gevolg hiervan loop Nathan baie moeilik, en dit het ook gelei tot ander probleme,” het sy gesê.

Volgens Selona is die dokter baie positief oor Nathan se behandeling en alhoewel sy voet nooit heeltemal normaal sal wees nie, sal hy wel platvoet kan loop. “Nathan sal drie operasies moet ondergaan met tussenposes van drie tot vier maande. Die dokter het gesê dat hy slegs Nathan se tone sal moet amputeer. Aan die einde van die behandeling sal sy voet soos ‘n boksie lyk,” het Selona verduidelik.
Lees meer: Elke tree is een nader aan ‘n oplossing
Sy het vertel dat die chirurg onlangs van verlof af teruggekeer het, en die operasies sal binnekort geskeduleer word. Sy het gesê, “Ons is baie dankbaar teenoor Child Medi Organisation vir al hul hulp, sonder hulle sou ons nie al so ver gevorder het nie. Ons het egter nog nie al die fondse wat ons nodig het nie, en sal enige donasies waardeer.”
Om ‘n bydrae vir Nathan te maak, kontak Amor van die Child Medi Organisasie by 062 266 0486, besoek hul webtuiste by https://www.childmedi.org of gaan na die Facebook-blad https://www.facebook.com/childmedi.org/?fref=ts.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!