‘Haar vinnige hartklop kan lewensgevaarlik wees’
'Dit is vir my belangrik om haar te help sodat sy ‘n lang en gesonde lewe kan leef.'
“My 18-jarige dogter doen altyd haar bes om ander gelukkig te maak en nou het sy ‘n problem met haar goue hart.”
So het ‘n emosionele Danelle Brits gesê nadat haar dogter, Chaneldi Kritzinger onlangs met ‘n harttoestand gediagnoseer is. “Chaneldi het saam met haar oom by die Ticketpro Dome gaan werk, en het skielik begin sleg voel. Nadat sy deur paramedici ondersoek is, het hulle haar aangeraai om dokter toe te gaan,” het Danelle gesê.
Volgens Chaneldi het sy die betrokke aand baie rondgehardloop. “Ek was baie besig, en elke keer as ek by die trappe op- of afgegaan het, het ek so ‘n bietjie kortasem gevoel, maar ek het net aanhou water drink en het toe beter gevoel. Maar, so tussen 9nm en 10nm kon ek glad nie asem kry nie, en dit het gevoel of iemand my bors toedruk. Die paramedici het ‘n elektrokardiogram (EKG) gedoen, en vir my gesê dat ek so gou as moontlik ‘n dokter moet gaan spreek,” het sy vertel.
Die dokter het nie vir hulle die beste nuus gehad nie. Danelle het so verduidelik: ”Die dokter het weer ‘n EKG gedoen, asook bloedtoetse en Chaneldi is met supraventrikulêre tagikardie gediagnoseer. Die toestand veroorsaak dat jou hart skielik vinniger klop, en as dit nie onder beheer gebring word nie, kan jou hart gaan staan. Dit is soos ‘n onophoudelike elektriese stroom wat uiteindelik uitbrand. Sy het boonop ‘n ystertekort.”
Daar is twee tipes behandeling vir dié toestand – chroniese medikasie of ‘n operasie – en om die korrekte behandeling te bepaal, moes Chaneldi vir 24 uur ‘n draagbare EKG gebruik. “Die dokter sal na die uitslae kyk, en dan op die behandeling besluit. Intussen het sy medikasie gekry wat sy moet gebruik totdat ons weer die dokter kan gaan sien,” het Danelle gesê.
Sy het bygevoeg dat hulle alreeds R4 500 uit hul sak vir al die prosedures moes betaal, want hulle het nie ‘n mediese fonds nie. “Ek is al vir die afgelope 13 jaar ‘n enkelouer en was ook lank werkloos. Ek het eers aan die begin van Januarie weer begin werk, so dit gaan maar broekskeur. Sou Chaneldi se toestand met medikasie beheer kon word, kyk ons na ‘n bedrag van ongeveer R1 200 per maand nét vir die medikasie.
Doktersbesoeke, bloedtoetse en ekstras is nie ingesluit nie. Maar, as die operasie die enigste oplossing is, sal ons ‘n astronomiese bedrag nodig hê,” het sy gesê.
Danelle se suster het reeds vir hulle ‘n fondsinsamelingsblad op www.backabuddy.com geskep om te help om geld in te samel. “Ons sal enige donasie – groot of klein – waardeer. Mense kan ook vir my ‘n epos na britsdanelle5@gmail.com stuur, sou hulle meer inligting verlang,” en Danelle het gesê.
“Dit is vir my belangrik dat sy die nodige behandeling ontvang sodat sy ‘n lang en gesonde lewe kan leef. Sy was nog altyd my steunpilaar, en ek weet nie wat ek sonder haar sal doen nie. Sy verdien net die beste en ek sal alles in my vermoë doen om dit vir haar te gee,” het Danelle emosioneel afgesluit.
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!