Kruiners sê, ‘Ons boelie nie!’
AfriForum leer Kruiners om nie te boelie nie
Laerskool Helderkruin het onlangs ‘n besoek van AfriForum ontvang waartydens hulle meer oor boelies en hoe om hulle te hanteer, geleer het.
Leandie Lombaard, AfriForum se leierskapsontwikkelingkoördineerder het verduidelik, “Dié teenboelieveldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in. Dit is vir ons belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk, om ‘n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan.
Dit is ook vir ons goed om te sien dat die skool ’n boelieraad het wat help om die probleem aan te pak en terselfdertyd leierskap onder leerders te ontwikkel.”
AfriForum werk ook nou saam met Manie Botha van HeyLead om ‘n leierontwikkelingskamp by die skool aan te bied, en om die Graad 7’s te help om aan hul leiereienskappe te skaaf, is hulle almal na dié kamp genooi.
Jaques Breet, die skool se hoof van Opvoedkundige Leiding het verduidelik dat alle Graad 7-leerders as leiers verkies word, en het gesê, “Hulle word dan in verskillende taakrade verdeel, sodat hul leierseienskappe reeds op ’n jong ouderdom ontwikkel word. Daar is ‘n sportraad, gemeenskapsraad, sosiale raad, kultuurraad, kleuterraad, geboue- en terreinraad, mediaraad, boelieraad, rekenaarraad, akademieraad, dienspuntraad en padpatrollie.”
Manie het afgesluit met die volgende woorde, “Ek glo dat dit uiters noodsaaklik is om in die jongmense van vandag te belê deur middel van opleiding, rigtinggewing en ondersteuning. Sodoende help ons nie net met die opheffing van vandag se leiers nie, maar ook met dié van môre. Dit bly ’n voorreg om met ouers, onderwysers en die gemeenskap hande te vat in die opheffing en uitbouing van ons jong leiers.”
Vir meer inligting oor die teenboelieveldtog en hoe om daarby betrokke te raak, stuur ‘n epos na boelie@afriforum.co.za.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!