Rikus is Golden Reef se eie ysterman
‘Ek het reeds twee halfystermankompetisies voltooi en wil nou die volle een aanpak.’
![](https://dwu32cgxelq1c.cloudfront.net/local_newspapers/sites/20/2018/03/IMG_7007_97812.jpg)
Die 35-jarige Rikus Kranhold gaan in April in Port Elizabeth aan een van die taaiste driekampkompetisies deelneem – die Ysterman.
Hy het reeds twee halfysterman-kompetisies voltooi, en glo dat hy gereed is om die volgende stappie te neem. “Tydens ‘n halfysterman-kompetisie is die afstande wat die deelnemers moet swem, fietsry en hardloop die helfte van dié van ‘n ystermankompetisie, daarom glo ek dat ek dit sal kan doen,” het hy optimisties vertel.
![](https://roodepoortrecord.co.za/wp-content/uploads/sites/20/2018/03/IMG_7009_35486-520x390.jpg)
Atlete wat aan ‘n ystermankompetisie deelneem, moet 1,93km ver swem, 90,1km ver fietsry en dan 21km ver hardloop.
Rikus het gesê dat hy van jongs af baie lief is vir sport en aan “alles” deelgeneem het. ‘’Ek het aan elke sportsoort deelgeneem wat by die skool aangebied is want ek is mal oor die kompetisie-aspek daarvan. Ek hou daarvan om myself aan ander te meet, en om in die proses te verbeter,” het Rikus gesê.
Hy het ses jaar gelede by die Golden Reef-padwedloopklub aangesluit, en hy het vertel, ‘’My fiksheid het ‘n bietjie agterweë gebly terwyl ek op universiteit was en ek het besef dat ek na my gesondheid moes begin omsien. Dit is hoekom ek by die klub aangesluit het, en ek was nog nooit spyt nie.”
Intussen het Rikus alreeds vier Comrades- en vier Two Oceans-maratons voltooi, asook twee 947-fietswedrenne, maar hy wou meer hê, en het sy fokus na driekampkompetisies verskuif.
“Ek het gevoel dat ek reeds alles wat ek kon, bereik het. Ek wou iets nuut probeer en het vir ‘n minidriekampkompetisie ingeskryf. Al was dit taai het ek daarna vir ‘n halfysterman ingeskryf, en dit oorleef,” het hy gesê.
‘n Volle ystermankompetisie is vir Rikus ‘n groot uitdaging en hy het vertel dat hy daarvoor ingeskryf het om te kyk of dit werklik so moeilik is soos almal sê.
Hy het bygevoeg dat deelnemers nie net fisies moet voorberei nie. “Jou geestelike voorbereiding is dié belangrikste, want as jy nie ‘n doelwit het om op te fokus nie, gaan jy nie die uitdaging kan voltooi nie. Die maklikste manier om te verseker dat jou fisiese voorbereiding gedoen word, is om eers in te skryf en dan te oefen,” het hy gesê.
Hy het met die volgende boodskap afgesluit, “Dit is belangrik om te onthou dat ongeag wat jy doen, jy dit moet geniet, anders gaan jy dit dalk nooit weer wil doen nie”.
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!