Winterliga by Roodepoort Krieketklub goed op dreef
Liga al ses weke aan die gang
![](https://dwu32cgxelq1c.cloudfront.net/local_newspapers/sites/20/2018/06/IMG_9375_80039.jpg)
“Ons is die enigste klub aan die Wes-Rand wat ‘n winterliga aanbied,” het Stella Goosen, die Roodepoort Krieketklub se voorsitter gesê.
Krieket is tradisioneel ‘n somersport en spelers kry nie altyd tydens die afseisoen die geleentheid om hul vaardighede te slyp nie. “Dit is hoekom ons besluit het om ‘n winterliga te begin.
Ongeveer 70 seuns neem aan hierdie liga deel, en dit is ongelooflik om te sien hoeveel hulle spel al verbeter het,” het Stella verduidelik.
Wedstryde in die liga, wat reeds nagenoeg ses weke aan die gang is, vind elke Saterdag by die Roodepoort Krieketklub plaas. “Ons het sewe spanne wat teen mekaar meeding. Daar is twee o.10-, twee o.11-, twee o.12- en twee o.13-spelers in elke span. Die wedstryde is volgens die T20-formaat, en is baie dieselfde as die wedstryde in Indiese Premier Liga wat onlangs op televisie uitgesaai is. Elke week word die spelers wat die vorige week uitgestaan het, tot die droomspan verkies, en hulle kan dan pienk hoedjies dra,” het Stella verduidelik.
Sy het bygevoeg dat die Saterdag-wedstryde in ‘n baie ontspanne atmosfeer plaasvind, en het gesê, “Die ouers geniet dit want terwyl die seuns speel, braai hulle ‘n vleisie en kuier saam. So vorm ons ‘n sterk familie-opset.”
Die spanne oefen elke Woensdag vanaf 4.30nm en word deur die klub se senior spelers afgerig.
Daar sal ook tydens die skoolvakansie (2–6 Julie) ‘n krieketkliniek aangebied word teen R120 per dag, wat middagete insluit.
Vir meer inligting, of om plek vir die kliniek te bespreek, kontak Stella by 084 702 7025 of stuur ‘n epos na stellagoosen@gmail.com.
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!