Maak ’n regte-egte lappop en wen ’n vakansie
Tak op Orania wil die land 'n bietjie nostalgies laat voel met hulle splinternuwe kompetisie.

Solidariteit Helpende Hand se tak op Orania wil die land ‘n bietjie nostalgies laat voel met hulle splinternuwe kompetisie.
Hulle daag alle naaldwerksters uit om ’n spog lappop aanmekaar te sit, want vir die mooiste lappop is daar ’n vakansie op die spel. Lappoppe was deel van baie mense se kindertyd en bring ’n gevoel van heimwee en vertroosting vir almal wat haar vashou.
Daarom wil die Helpende Hand-tak op Orania soveel lappoppe as moontlik insamel en terselfdertyd naaldwerksters die geleentheid gee om hulle vaardighede ten toon te stel.
Daar is twee kategorieë in die kompetisie: Outydse lappop en hedendaagse lappop, elk met spesifieke reëls wat sal verseker dat jou lappop ’n meesterstuk is. Ingeskrewe lappoppe word die eiendom van Helpende Hand Orania wat dit sal verkoop.
Die opbrengs sal gebruik word vir die versorging van kinders in veilige bewaring en om aan hulle die geleentheid te gee om deel te wees van ‘n koesterende gesin. Sommige lappoppe mag deur Helpende Hand Orania as geskenke aan kinders uitgedeel word.
Volgens Magdaleen Kleynhans, takvoorsitter in Orania is hulle fokus in 2018 op gesonde gesinne. “Vir ons beteken dit gesinne waar elke lid ‘n veilige plekkie het en elke lid kan groei en blom. ‘n Lappop kan vir ‘n kind vertel hoe waardevol sy of hy is,” het Magdaleen gesê.
“Help ons om die boodskap van koesterende gesinne dwarsoor Suid-Afrika uit te dra deur ‘n lappop in te skryf en dalk ‘n opwindende prys te wen,” het sy afgesluit.
Die kompetisie sluit op 15 September 2018.
Eerste prys: ’n Week se vakansie op Orania vir ’n gesin van ses propvol ekstra verrassings.
Tweede prys: ’n Naweek vir twee op Orania propvol ekstra verrassings.
Vir meer inligting, kontak Magdaleen by 053 207 0108 of besoek https://www.helpendehand.co.za/lappop.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!