Witpoortjie-model het hulp nodig om droom te bewaarheid
Kyle het sy oog op die gesogte Model van die Jaar-titel

Die 14-jarige Kyle Ras het die geleentheid gekry om vir die gesogte titel van Model van die Jaar te kompeteer.
Kyle is ‘n student by Figures Models in Roodepoort, en het in September verlede jaar in die kommersiële modelwerk-kategorie aan sy eerste modelkompetisie deelgeneem. Aan die einde van die jaar het hy aan drie kompetisies deelgeneem, en baie goed presteer.
Hierdie prestasies het daartoe gelei dat sy afrigter, Theresa de Stoppelaar, hom gekies het om aan die jaarlikse konferensie van die International Models and Talent Association (IMTA) deel te neem wat vanjaar in Maart op die MSC Sinfonia gehou is.

Daar het Kyle die geleentheid gehad om voor sewe internasionale agente op te tree. “Ek het in vyf kategorieë deelgeneem, en is as die wenner in die Commercial Artists-afdeling aangewys. Ek het ook onder die Top 5 in al die ander kategorieë geëindig en is deur drie van die sewe agente genooi vir verdere oudisies,” het hy gesê.
Nou het hy weer die geleentheid om aan aanstaande jaar se Project Aspiring International Models (Aim) se Model van die Jaar-kompetisie deel te neem. Hierdie geleentheid sal in Maart aanstaande jaar op die MSC Musica gehou word.
Hy sal weer die kans kry om voor 15 internasionale agente op te tree. Sy ma, Liaan Ras, het gesê, “Kyle is ongelooflik opgewonde oor hierdie geleentheid, en is hard besig om te oefen. Hy volg al die raad wat hy van die agente tydens verlede jaar se konferensie gekry het sodat hy nóg beter kan presteer.”
Die koste van die konferensie beloop R16 500, en tot dusver het hulle reeds R6 000 ingesamel. “Ons is baie dankbaar vir elke sent wat ons al ontvang het,” het Liaan gesê.
Sy het ‘n versoek gerig aan individue of maatskappye om hulle met ‘n borgskap of donasie te help, en het gesê, “Sou iemand ons graag wou help, of nog inligting benodig, kan hulle my kontak by 084 206 9414, of liaanras83@gmail.com. Hulle kan ook vir Theresa (Kyle se afrigter) kontak by roodepoort@figuresmodelssa.com.”
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!