Florida-meisie veg moedig voort teen leukemie
‘Daar is goeie dae en slegte dae, maar ek gaan aanhou veg’

Jou matriekafskeid is iets waaroor jy droom wanneer jy jou hoërskoolloopbaan begin, maar vir die 18-jarige Clarece Scholtz was dit ‘n baie groot geleentheid.
Sy is op 23 Julie met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer en het nie gedink dat sy by haar matriekafskeid sou wees nie. “Wanneer jy hoor jy het kanker, dink jy dadelik dat dit die einde beteken. Alhoewel die nuus my soos ‘n bus getref het, het ek besluit dat ek nie sal toelaat dat dit my onderkry nie,” het Clarece vertel.
Lees meer hier:
https://roodepoortrecord.co.za/2018/09/12/ek-sal-nie-toelaat-dat-kanker-my-wen-nieflorida-meisie-bly-veg-teen-leukemie-web/
Nadat sy gediagnoseer is, moes sy vir eers haar toekomsplanne opsy skuif omdat die behandeling aggressiewe chemoterapie ingesluit het. Sy het van haar rekordeksamenvraestelle in die hospitaal geskryf tydens haar chemosessies.

Na haar eerste chemosessie het die beenmurgtoetse gewys dat sy minder as een persent kankerselle in haar liggaam het. “Die dokter het bevestig dat ek basies in remissie is, maar ek sal steeds vir die volgende twee jaar met gereelde tussenposes chemoterapie moet ontvang, en ek sal ook ‘n beenmurgoorplanting moet ondergaan,” het sy gesê.”
Sy het vertel dat sy haar voorlaaste chemoterapie net voor die matriekafskeid sou ontvang, en dat sy bang was dat sy nie die funksie sou kon bywoon nie. “Ek was baie desperaat en het twee dae voordat ek ontslaan sou word, vir die dokter gevra of ek mag huis toe gaan. Hy het uiteindelik ingestem dat ek verder by die huis kon heerstel. Toe ek by die huis kom, het ek besef hoeveel reëlings nog getref moes word. Dit is moeiliker gemaak deur die feit dat ek nie lekker gevoel het nie,” het Clarece gesê.
Met die ondersteuning en geduld van haar ma, Fransie Scholtz, kon hulle alles gedoen kry en Clarece was gereed vir haar groot aand. “Dit was ‘n uitputtende, maar tog fantastiese aand, en ek was so dankbaar dat ek dit kon ervaar,” het sy met ‘n vonkel in haar oë vertel.
Sy is tans besig met haar eindeksamen maar weens die gereelde chemosessies sal sy heel waarskynlik eers aanstaande jaar haar matriek kan voltooi. “Ongelukkig wil die Departement nie toelaat dat ek my vraestelle in die hospitaal skryf nie, wat beteken ek sal eers aanstaande jaar die res van my vakke kan skryf en my matriek voltooi,” het sy gesê.”
Clarece het bygevoeg dat die hele reis vir haar soos ‘n reuse wipwaentjierit voel, en dat sy goeie dae en slegte dae beleef. “Maar ek is steeds baie positief dat ek hierdie siekte gaan oorwin, maak nie saak hoe nie.”
Fransie het bygevoeg, “Sy is baie gedetermineerd, maar ek kan sien dat dit soms vir haar baie moeilik is omdat dit voel asof sy saam met ‘n monster lewe wat elke keer nog ‘n happie uit haar tienerlewe neem. Ons is egter dankbaar vir elke dag wat ons saam het, want jy besef dat haar omstandighede in ‘n oogwink weer kan verander.”
Die Scholtz-gesin het ook hulp uit alle oorde ontvang, waarvoor hulle ongelooflik dankbaar is. Fransie het dit so verduidelik, “Behalwe vir die BackaBuddy-bladsy wat Martin begin het, het Hoërskool Florida ook ‘n rekening geopen waarin leerders, hul ouers en selfs die onderwysers donasies inbetaal het, en steeds doen. Intussen het die balletskool waar Clarece gedans het, met ‘n fotograaf kragte saamgesnoer en ook ‘n fondsinsamelingsprojek vir haar gereël.”
Karen van der Westhuizen, van die KareNati Dansstudio, het vertel dat Clarece ‘n student by haar was sedert sy sewe jaar oud was. “Sy is baie talentvol en het baie goed presteer. Sy is ‘n borrelende meisie wat altyd lag en vreeslik lekker kan gesels. Ongelukkig moes sy in die middel van hierdie jaar ophou dans omdat sy vreeslik moeg geword het en ook nie met al die skoolverpligtinge kon byhou nie.”
Sy het bygevoeg dat die nuus van Clarece se diagnose hulle hard geslaan het, en toe een van haar ander studente se ma’s haar op Facebook in ‘n plasing van fotograaf Mareli Victor gemerk het, het sy dadelik aan Clarece gedink. “Mareli was op soek na dansers en honde vir ‘n fotosessie, en ek het haar dadelik gekontak om van my dansers en my diere deel te maak van dié projek. Aanvanklik sou hierdie projek ‘n fondsinsameling vir verskeie diere-organisasies wees, maar nadat ek haar van Clarece vertel het, het sy besluit om die projek ten bate van haar te doen,” het Karen vertel.
Mareli het gesê dat sy die foto’s gaan gebruik om kalenders te maak wat mense dan kan bestel. ‘ Persentasie van die opbrengs sal dan aan Clarece gegee word om die ekstra mediese onkostes te help dek.
Vir meer inligting oor hierdie projek, kontak gerus vir Mareli by 082 632 2637 of besoek haar Facebook-bladsy (Mareli Victor Photography).
Om ‘n donasie te maak, besoek Clarece se BackaBuddy-bladsy
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!