Florida-seun het ‘n liefde vir stof, enjins en spoed
'Ek wil graag eendag 'n professionele Motocross-ryer wees'
![](https://dwu32cgxelq1c.cloudfront.net/local_newspapers/sites/20/2018/11/IMG-20181008-WA0010_11508.jpg)
Sy liefde vir motorfietse, brullende enjins en spoed het alreeds op vyfjarige ouderdom begin toe hy sy heel eerste ysterperd gekry het.
Die agtjarige Ruben Tolmay se ma, Heidi Tolmay, het verduidelik, “Ons het op ‘n plaas net buite Rustenburg gewoon. Ruben se pa het motorfiets gery en hy wou altyd vreeslik graag saam met sy pa ry. Ons het vir hom ‘n klein Yamaha TTR50-motorfiets gekry, sodat hy saam met sy pa kon rondjakker.”
Ruben, wat tans ‘n Graad 2-leerder by Laerskool Florida is, het vanjaar aan MotoCross begin deelneem, en was nog nooit spyt nie. Hy ry in die 50cc-kategorie en het reeds menige prestasies behaal.
“Hy het ‘n tweede plek by Dirt Bronco, ‘n derde plek by Smoking Pistons, ‘n derde plek by Dirt Bronco, ‘n derde plek by Terra Topia asook verskeie medaljes vir plekke tussen vier en 10 verower. Hy het ‘n algehele sesde plek vir die jaar in die World of Motorsport ZA (WOMZA) 50cc Support-klas behaal,” het Heidi gesê.
![](https://roodepoortrecord.co.za/wp-content/uploads/sites/20/2018/11/IMG-20181008-WA0008_87201-520x390.jpg)
Ruben droom daarvan om in Amerika aan die Supercross deel te neem en vir ‘n vervaardigerspan professioneel mee te ding. Dit is ook hoekom die Erora Raceway in Kempton Park vir hom een van sy gunstelingbane is. “Ek hou baie van hierdie baan wat omring is met baie bome en ook baie hoë heuwels het. Dit lyk baie soos die Supercross-bane in Ameika,” het hy vertel.
Sy Motocross-held is Ryan Dungey, en Ruben het verduidelik, “Ek hou baie van die manier hoe hy ry en sy harde werk is vir my ‘n groot motivering. Dit is ook hoekom ek minstens twee maal ‘n week vir tussen drie en vier uur lank oefen.
”Wanneer hy nie op die baan oefen nie, doen hy intense fiksheidsoefeninge by die huis. “Dit is ‘n inspirasie om te sien hoe hard hierdie jong seun werk om sy droom te bewaarheid. Dit sit nie in enige kind se broek om so ver te kom nie, maar Ruben hou vol met sy harde werk en oefening.
”Ruben droom daarvan om eendag as ‘n professionele motorfietsryer vir homself naam te maak. “Ek wil vreeslik graag ‘n inkomste hiermee kan verdien, want dan hoef ek nie vir ‘n baas te werk wat my van my sport af weghou nie,” het hy ondeund vertel.
Ruben gebruik tans sy KTM 50SX vir wedrenne. Hy is baie lief vir die motorfiets en dit is sy gunsteling, want “KTM is oranje, en dit is mos my gunsteling kleur!” het Ruben gesê.
Heidi het afgesluit, “Ons is op soek na enige persoon of maatskappy wat bereid sal wees om vir Ruben ‘n borgskap aan te bied, want op die oomblik dek ons alle kostes self. Hy wil graag volgende jaar aan die Nasionale Kampioenskappe deelneem, maar hy sal dit net met die hulp van ‘n borg kan doen.”
Vir meer inligting, stuur ‘n epos na heidi@vavistax.co.za.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!