Local newsNews

Bakster wil ‘n verskil maak – een koek op ‘n slag

‘Daar is niks beter as om kinders se gesiggies te sien ophelder wanneer hulle hul verjaardagkoek sien nie’

Die 38-jarige Desiré Smith het haar passie vir koek bak begin uitleef omdat sy glad nie van tuinwerk hou nie.

Sy het verduidelik, “My ma het gedurende my skoolloopbaan koeksisters gebak, en ek dink dit is waar ek my liefde vir bak gekry het. Ek moet eerlik wees, ek het nog altyd meer van die versierwerk as die bakwerk gehou maar ek moet bak om iets te kan versier!”

Desiré het haar eerste verjaarsdagkoek vir haar dogtertjie, Mikal gebak toe sy ‘n jaar oud geword het. Daar, het sy gesê, het die bakgogga haar gebyt. “Toe ek Mikal se eerste verjaardagkoek gebak het, het ek dit vreeslik geniet. Vriende en familielede het my toe begin vra om vir hulle ook te bak, en my stokperdjie het baie vinnig uitgebrei tot waar ek party maal ongelukkig moes nee sê vir ‘n bestelling,“ het sy vertel.

Nou, bykans nege jaar sedert sy hierdie stokperdjie deeltyds begin beoefen het, het sy onlangs besluit om haar werk as aptekersassistent te bedank om al haar aandag aan haar bakwerk te gee. “Ek gaan binnekort begin om ook lekkergoedpakkies saam met die koeke te voorsien, ” het sy gesê.

Die koekbakkery is nie altyd net maanskyn en fondantrose nie. Desiré het al heelwat hoogte- en laagtepunte beleef. “Wanneer jy misluk, beteken dit nie dat jy jou droom moet prysgee nie. Haal net diep asem en probeer weer. Wanneer jy daardie verjaardagmaatjie se opgewonde gesiggie sien, is al die lang aande en min slaap beslis die moeite werd,” het sy het vertel.

“Die ergste ervaring wat ek nog met ‘n bestelling gehad het was toe die versiering van die koek begin afval het! Dit was ‘n verjaarsdagkoek wat ek vir die ouma van ‘n gereelde kliënt gebak het. Hulle moes die koek nogal ver vervoer, en die hitte en grondpad het nét nie saam gewerk nie, en ek moes via WhatsApp vir haar instruksies gee hoe om die koek te red,” het Desiré gesê.

Daar is ook dié bestellings wat haar ‘n tevrede glimlag besorg het. Een van hulle was die spesiale koek wat die kliënt gelyktydig laat gil en huil het van blydskap.

Desiré het gesê dat sy elke keer voordat sy met ‘n bestelling begin, kliphard bid en doodseker maak dat sy al die bestanddele byderhand het. “Dit het al gebeur dat my arme man moes gaan eiers of olie koop omdat ek te besig geraak het by die werk en daarvan vergeet het. Gelukkig het ek ‘n baie geduldige en ondersteunende man, waarvoor ek ongelooflik dankbaar is!” het sy vertel.

Maar, het sy enige geheime of spesiale resep wat sy gebruik wanneer sy bak? “Ja, ek het beslis een! Ek en my skoonma het op ‘n stadium saam gebak, en sy het vir my haar sjokoladekoekresep met ‘n sjokolademoussevulsel gegee. Ek is oneindig dankbaar vir hierdie resep, want dit is beslis ‘n gunsteling onder my kliënte, en is altyd ‘n wenner,” het sy geantwoord.

Bakwerk is vir Desiré baie vervullend, en sy doen dit om ‘n verskil in iemand se lewe te maak. “Elke kind wil tog ‘n spesiale koek op sy of haar verjaardag hê en deur my kreatiwiteit in die kombuis en Godgewe talent te gebruik, kan ek daardie wens vervul.”

Desiré het bygevoeg dat dit vir haar moeilik is as iemand vir haar ‘n prentjie gee en daarop aandring dat die koek presies so moet lyk, en sy het gesê, “Dit is vir my basies onmoontlik om so ‘n koek te bak, omdat ek nie self die oorspronklike koek op die prentjie gebak het nie.”

Sy geniet dit die meeste wanneer ‘n kliënt vir haar sê wat die tema van die koek is, en dan vir haar vrye teuels gee. “Dit is wanneer ek my kreatiwiteit kan gebruik om daardie spesiale skepping te maak wat ek weet hul asems sal wegslaan.”

Sy het bygevoeg dat sy mal is oor uitdagings en baie kompeterend is (wat haar al menige kere in die moeilikheid laat beland het), maar sy het ook ‘n baie sagte hart en help altyd waar sy kan. “Ek het ‘n passie vir bakwerk, asook vir die mediese veld, en ek hoop dat ek sal kan voortgaan om altwee uit te leef om mense se lewens te verryk,” het sy afgesluit.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button