![](https://dwu32cgxelq1c.cloudfront.net/local_newspapers/sites/20/2019/01/IMG_8519_35712.jpg)
Die 57-jarige Pieter Joubert, die Algemene Bestuurder van die Spierdistrofievereniging se Gauteng-tak, is op 3 Januarie na ‘n kort siekbed oorlede.
Pieter het aan fasioskapulêre humerale spierdistrofie gely, wat die skeletspiere van die gesig, skouerblaaie enbo-arms, asook die asemhalingstelsel en ander belangrike organe aantas.
Volgens Louis Fourie, Pieter se skoonseun, is Pieter op 13 November in die Life Flora Kliniek opgeneem “… as gevolg van inwendige bloeding en ‘n long wat platgeval het. Terwyl hy in die hospitaal was, het hy verskeie terugslae beleef en is in ‘n geïnduseerde koma geplaas.”
Lees meer:
https://roodepoortrecord.co.za/2018/12/11/mdf-managers-health-failingprayer-and-support-asked-for-mdf-manager-web/
Hy het bygevoeg dat Pieter moedig geveg het, maar dat die stryd vir hom net te veel geword het. “Sy dood gaan ‘n groot leemte laat, nie net in ons lewens nie, maar ook in die wyer gemeenskap en die Spierdistrofievereniging.”
Louis het vertel dat Pieter, wat oorleef word deur sy vrou, twee kinders en twee kleinkinders, ‘n wonderlike pa en oupa was, wat altyd almal probeer help het waar hy kon, en het gesê, “Pieter was soos ‘n mechanic – hy het altyd eerste na almal anders omgesien, voordat hy na sy eie behoeftes omgesien het. Hy het vir sy kinders en kleinseuns gelewe, en hulle was mal oor hom. Ons sal altyd, wanneer ons aan Pieter dink, sy glimlag, omgee en waardes onthou.”
Robert Scott, wat saam met Pieter gewerk het, het gesê dat Pieter se afsterwe vir hom baie hartseer was, “Pieter was ‘n gawe mens wat sy tyd toegewy het daaraan om dié met Spierdistrofie te help. Hy het ‘n belangrike rol in die vereniging gespeel, en my baie geleer in die tyd wat ons saam gewerk het. Hy sal definitief baie gemis word deur elkeen wat hom geken het.”
Pieter se begrafnis vind op Dinsdag 8 Januarie om 1.30nm vanuit die EL-Flora Nederduitsch Hervormde Kerk, op die hoek van Anstrutherstraat en Frerelaan, Discovery plaas.
Vir aanwysings na die kerk, klik hier: https://maps.app.goo.gl/R3tcH
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!