Honde-eenheid se bevelvoerder groet na 43 jaar
‘Ek wou ‘n verskil maak en mense veilig laat voel’
![](https://dwu32cgxelq1c.cloudfront.net/local_newspapers/sites/20/2019/02/IMG_2840_32481.jpg)
Dit was ‘n dag vol blydskap, maar tog ook hartseer toe luitenant-kolonel Mario Caroto, 60, sy polisiepet vir die laaste keer aan die kapstok gehang het.
Hy het op 1 Februarie na bykans 43 jaar se getroue diens afgetree, en het gesê, “Dit was vir my ‘n blye dag, maar tog so ‘n bietjie hartseer, maar met genade en seëninge gaan ek my nuwe lewe geniet – een dag op ‘n slag.”
![](https://roodepoortrecord.co.za/wp-content/uploads/sites/20/2019/02/50928444_10217764524092153_1016947362616049664_n-520x400.jpg)
Mario, wat aan die Wes-Rand gebore en getoë is, het op 17-jarige ouderdom matriek by Hoërskool Florida voltooi, waarna hy by die Florida-polisie aangesluit het.
Lees ook:
https://roodepoortrecord.co.za/2018/05/13/polisie-kuier-by-kruiner-vorieskruiner-voortrekkers-ontvang-besoek-van-polise-web/
“In 1977 het ek my opleiding voltooi en is uitgeplaas na die Roodepoort-polisiestasie toe. Ek het ook ‘n draai by Maraisburg gemaak, voordat ek in 1979 by die Honde-eenheid in Roodepoort aangesluit het. Na die voltooiing van my Diploma in Polisiekunde is ek in 1993 tot luitenant bevorder en is oorgeplaas na die Honeydew-polisiestasie. In 1996 is ek tot kaptein bevorder en het weereens by Florida aangesluit,” het hy vertel.
In 1999 is Mario tot luitenant-kolonel bevorder en het die pos as eenheidsbevelvoerder by die Wes-Randse Honde-Eenheid aanvaar waar hy tot en met sy aftrede gestasioneer was. “Ek was ook sedert 1990 ‘n instrukteur wat honde afgerig en lede opgelei het,” het Mario gesê.
Vir Mario was die beveiliging en beskerming van sy omgewing en mense aan die Wes-Rand sy grootste motivering om elke dag werk toe te gaan.
“Seëninge en genade van God en die bystand van myvrou en twee dogters het ook ‘n baie groot rol in my loopbaan gespeel en het my staande gehou,” het hy gesê.”
Alhoewel hy vele goeie herinneringe van sy lang loopbaan het, is daar ook dié wat nie so goed was nie. “Een van die ergste dae in my loopbaan was toe twee van my lede in Jeppestown doodgeskiet en twee gewond is. Die rowers is almal skuldig bevind en lang tronkstrawwe opgelê, en dit is definitief een van my beter herinneringe,” het hy vertel.
Hy het ook vele toekennings ontvang, insluitend medaljes vir troue diens (10, 20, 30 en 40 jaar), ‘n polisiemedalje, asook twee balkies vir die bekamping van terrorisme.
Carla Caroto, Mario se dogter het gesê dat dit nooit vir haar maklik was om ‘n polisieman se dogter te wees nie. “Wanneer my pa in die aande moes werk of na tonele moes uitgaan, was dit altyd vir my moeilik. Ek het altyd wakker gelê en gebid tot ek die voordeur hoor oopgaan het.”
Sy het bygevoeg dat haar pa ook ‘n sagter kant het en dit is bewys toe hy ‘n groot rol gespeel het om ‘n negejarige seun se droom te bewaarheid.
“Ludick Fouché, wat met Duchenne Spierdistrofie gediagnoseer is, se droom was nog altyd om ‘n polisieman te wees, en my pa het nie een oomblik getwyfel om dié droom te help bewaarheid nie.”
Lees hier:
https://roodepoortrecord.co.za/2018/04/10/negejarige-se-droom-bewaarheid-roodekrans-seun-se-droom-bewaarheid-web/
Carla het gesê dat haar pa se aftrede vir haar ‘n emosionele dag was, en het verduidelik, “Ek het besef dat ek nooit weer my held in sy uniform gaan sien nie en my kinders gaan hom ook nie as ‘n gerespekteerde polisieman onthou nie. Ek is ongelooflik dankbaar vir die jare wat hy vir ons gespaar is en my grootste wens is dat hierdie nuwe avontuur vir my ouers geseënd en vreugdevol sal wees.”
“Ek gaan dit mis om te kan sê my pa is ‘n polisieman. Ek salueer pappa, my trots en my held vir altyd,” het sy afgesluit.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!