Florida-meisie kraai koning op die krieketveld
‘Ek wil die vinnigste honderdtal in die sport behaal’
![](https://dwu32cgxelq1c.cloudfront.net/local_newspapers/sites/20/2019/02/IMG_2687_04752.jpg)
“Maak nie saak wat ander mense sê nie – as jy die sport geniet, moenie daarmee ophou nie. Die belangrikste is om dit te geniet.”
Die 15-jarige Louise Kemp speel krieket vandat sy nege jaar oud is en droom daarvan om eendag vir die Proteas te speel.
Sy het vertel dat sy en haar pa agter in die tuin krieket gespeel het sedert sy klein was en dat sy nog altyd mal was oor die sport. “Toe hulle by die laerskool afgekondig het dat daar proewe vir die seuns sou plaasvind, het ek besluit om ook deel te neem. Ek het die span gehaal en die res is, soos hulle sê, geskiedenis.”
Louise speel al vir die afgelope vyf jaar in die Gauteng-meisieskrieketspan. “Ek het eers vir die o.13’s gespeel, en ‘n jaar later het ek vir die o.16’s gespeel. Daarna het hulle my na die o.19-span toe opgetrek,” het sy gesê.
Sy is tans lid van die Khosa-krieketklub waar sy twee tot drie maal per week oefen. Haar harde werk en deursettingsvermoë is beloon toe sy haar hoogste telling van 96 lopies tydens ‘n toer na Indië behaal het.
Louise het ook twee jaar gelede in Botswana gespeel waar sy as Speler van die Wedstryd aangewys is. “Ek is ook al twee maal as Speler van die Jaar aangewys; een keer by die o.13’s en een keer by die 0.16’s. Ek was lid van die meisiespan wat in die Sunfoil Township Toernooi gespeel het, en daar is ek as die Speler van die Toernooi aangewys. Ek is ook as die Kolwer van die Jaar by Khosa aangewys,” het sy gesê.
Hoewel krieket haar gunstelingsport is, speel sy ook netbal, skaak en muurbal. Gedurende die atletiekseisoen neem sy aan die diskus- en gewigstootitems deel.
Sy het verduidelik waarom Herschelle Gibbs haar rolmodel in die krieketwêreld is. “Hy kon die bal wegslaan as hy wou, maar hy het geweet wanneer om ‘n rustige (en stadiger) kolfbeurt te speel. Hy was ook ‘n baie goeie veldwerker.”
Soos dit maar met enige sport die geval is, droom Louise daarvan om eendag haar land te verteenwoordig en vir die Proteas te speel. Dit is egter nie haar enigste doelwit nie. “Ek wil ook die speler wees wat die vinnigste honderdtal in die sport behaal.”
Vir Louise is krieket nie net nog ‘n sportsoort nie; dit is haar lewe, “Die gevoel wat ek kry wanneer ek ‘n grenshou slaan of ‘n 50- of 100-tal aanteken is ongelooflik. Maar, die ondersteuning en toejuiging van myspanmaats en ouers wat om die veld sit, is vir my ‘n bewys dat ek dit nie net vir myself bereik het nie, maar ook vir die span.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!