Latest SportSport

Florida-stoeier gereed om die wêreld te verower

Hy is gekies om sy land in Hongarye te verteenwoordig

 

Die meeste sportpersone droom daarvan om eendag die groen en goud oor hul koppe te trek en hul land te verteenwoordig. Vir Terrence Esterhuizen is hierdie droom onlangs bewaarheid.

Terrence, 13, oefen by die Danie van Zyl Stoeiklub al vandat hy sewe jaar oud is, en het reeds in die eerste jaar gewys dat hy ‘n stoeier van formaat gaan wees toe hy as die beste o.8-stoeier in Sentraal-Gauteng aangewys is.

Twee jaar later is hy as die beste o.11-stoeier aangewys en die jaar daarna het hy weereens hierdie toekenning ontvang, hierdie keer vir die beste o.12-stoeier in Sentraal-Gauteng.

Sy harde werk en toewyding is verlede jaar beloon toe hy sy heel eerste Suid-Afrikaanse titel gewen het en as die Grieks-Romeinse Kampioen aangewys is.

Een van sy grootste drome is bewaarheid toe hy vanjaar na afloop van die Suid-Afrikaanse Jeugproewe gehoor het dat hy gekwalifiseer het vir die Internasionale Skole Stoeifederasie se World Combat-span.

Sy ma, Ansie Esterhuizen, het so verduidelik. “Terrence het vroeg in Maart aan die proewe deelgeneem en al sy stoeigevegte gewen. Hy is die enigste stoeier van Sentraal-Gauteng wat vir hierdie span gekies is, en ons is ongelooflik trots op hom. Die toernooi word van 16 tot 22 Junie in Budapest, Hongarye, gehou.”

Sy het bygevoeg dat Terrence ook uitgenooi is om aan die Tallin Open-toernooi deel te neem wat onlangs in Estonia gehou is. “Hy kon ongelukkig nie gaan nie, want ons het nie genoeg tyd gehad om die nodige gelde in te samel nie.”Dit sal vir Terrence geleentheid wees wat hom net ‘n eenmaal in ‘n leeftyd voordoen om in Hongarye te gaan deelneem, en Ansie het gesê, “Ons wil bitter graag vir hom hierdie geleentheid gee, maar die finansies hieraan verbonde is vir menige atleet ‘n groot struikelblok – ook vir ons ook. Die kostes vir sy deelname beloop sowat R24 000, en ons rig ‘n versoek aan die gemeenskap om vir Terrence deur middel van ‘n donasie of dalk ‘n borgskap te ondersteun.”

Vir meer inligting, kontak Ansie by mevessie1@gmail.com.

Related Articles

Back to top button