Roodepoort se Wynand eet, slaap en leef drama

'Ek is ‘n doodgewone familiemens wat op my gelukkigste by my gesin en naaste vriende is'

 

Meeste mense ken hom as Gielie Goosen, die batterytegnikus wat in die kykNET-komedie Ouboet en Wors die dorp platry in sy mosterdgeel tuk-tuk, op soek na ‘n plek om kwaad te doen.

Hoewel dit inderdaad die 35-jarige Wynand van Vollenstee is wat die afgelope twee jaar met sy welbekende tuk-tuk in Roodepoort rondry, is dit basies waar die ooreenkoms met Gielie eindig.

“Mense is geneig om te dink dat akteurs is soos die karakters wat hulle speel en die persoonlikheid wat uitgebeeld word. Ek is egter in my hart ‘n doodgewone familiemens wat op my gelukkigste by my gesin en naaste vriende is. Ek verkies om die positiewe dinge in die lewe te geniet en my te omring met positiewe mense wat ‘n positiewe bydrae kan lewer,” het Wynand vertel.

Wynand is al van kindsbeen af betrokke by teater en alles wat daarmee saam gaan. “As kind het ek aan verskeie produksies by die Witbank Teater onder leiding van Dawid van der Merwe deelgeneem. Ek was ook in my jonger dae ‘n sanger. Op skool het ek aan ‘n verskeidenheid kultuuraktiwiteite deelgeneem en in 2005 het ek my dramastudies aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie begin. Dit is waar my professionele loopbaan as akteur afgeskop het,” het hy gesê.

Hy het rolle in verskeie films, televisiereekse, advertensies en teaterproduksies vertolk, onder andere in Platteland, Karate Kallie, Ouboet en Wors, Erfsondes, Villa Rosa, Getroud met Rugby, My vrou se man se vrou, – om net ‘n paar te noem.

Wynand is ook gereeld betrokke by verskeie kunstefeeste, soos die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en Innibos, en het ook sy eie produksiemaatskappy. “Ek en my vennoot, Mariaan du Plessis, (hoof uitvoerende beampte van die Medical Nutritional Institute) het Open Call Industries op die been gebring en die Wêlakapêla Kinderfees en Kids Talent Festival is van ons eerste groot projekte wat uit hierdie maatskappy gebore is,” het hy opgewonde vertel.

Hoewel hierdie twee projekte vir hom ‘n groot uitdaging is en hom opgewonde maak, is die Wêlakapêla Kinderfees ‘n definitiewe hoogtepunt. Hy het verduidelik, “Hierdie fees is ‘n eerste van sy soort. Dit gaan ‘n grootskaalse kunstefees wees wat spesifiek op kinders en gesinne gemik is. Dit sal ‘n jaarlikse instelling word en beloof om ‘n hoogtepunt op alle gesinne se kalenders te wees. Daar sal talle bekende kunstenaars op die verhoog te sien wees, asook oneindige vermaak vir alle ouderdomme – van ‘n groot opblaasspeelpark tot ‘n spookhuis, kosstalletjies, kindermark, kinderskoonheidsalon en nog vele meer.”

Hy het met die volgende woorde afgesluit, “Ek wou nog altyd my liefde vir die verhoog, teater en drama met die jonger generasie deel, en dit is hoekom ons die kinderfees reël. So kry ons die geleentheid om die wonder van die verhoog in ‘n taal wat kinders verstaan aan hulle bekend te stel en te help om ‘n liefde vir die teater by hulle te kweek.”

Vir meer inligting oor die Wêlakapêla Kinderfees, besoek gerus die webwerf by https://www.welakapelafestival.co.za of stuur ‘n epos na vanvollenstee@yahoo.co.uk.

Exit mobile version