Horison-paartjie vier 60ste huweliksherdenking
Hul kinders kon nie vir beter rolmodelle vra nie
![](https://dwu32cgxelq1c.cloudfront.net/local_newspapers/sites/20/2019/04/Oumaenoupa2NEW_85930.jpg)
Respek, geduld, geloof en liefde – dit is waarop Eddie Thompson, 83 en Marie, 81, hul huwelik gebou het, en hulle het onlangs die sukses van hierdie resep gevier.
Dit was op 11 April die paartjie se 60ste huweliksherdenking gevier, en om die geleentheid net so ‘n bietjie meer spesiaal te maak, het hulle die groot mylpaal saam met familie en vriende gevier. Marie was net 19 jaar oud toe sy die 21-jarige Eddie ontmoet het. Sy het in daardie stadium in Brits gewoon, maar dit het nie vir Eddie afgeskrik nie, en hy het lag-lag die afstand tussen Westdene (waar hy gewoon het) en Brits op sy bromponie afgelê om te gaan vlerksleep.
Die paartjie was twee jaar saam voordat Eddie die jawoord gevra het, en hulle is op 11 April 1959 in die AGS Kerk in Brits getroud. Hulle woon tans in Horizon View.
Hulle is geseën met drie dogters, ses kleinkinders en twee agterkleinkinders.
Hul drie dogters, Marietjie Meyer, Denise Roux en Elsabé Breedt het vertel, “Hulle hou steeds hande vas wanneer hulle langs mekaar sit en glo daaraan om elke aand, voordat hulle gaan slaap, saam te bid.
Ons kinders kon nie vir beter rolmodelle gevra het nie.”