School sportSport

Florida-meisie dans-dans op pad New York toe

Sy het twee gouemedaljes tydens die Talent Africa-kompetisie verower

 

Domunique Nel, 8, droom daarvan om ‘n wêreldbekende danseres te word en na haar deelname aan die afgelope Talent Africa-kompetisie is sy ‘n stappie nader daaraan om dit te bewaarheid.

Dié Graad 3-leerder van Laerskool Florida het verlede jaar by Fusion Dance International begin dans, en het reeds tydens haar eerste kompetisie ses medaljes ingepalm. Sy het ook tydens haar danseksamen baie goed gevaar en vir beide haar danse ‘n A+ sertifikaat ontvang. Sy is ook tydens verlede jaar se prysuitdeling as die naaswenner in twee kategorieë aangewys.

Junene Nel, Domunique se ma, het gesê, “Domunique is baie lief vir dans, en laat nie ‘n geleentheid om voor mense te dans verbygaan nie. Sy het in Maart tydens die Talent Africa-kompetisie in die Roodepoort Teater ‘n gouemedalje in beide haar danskategorieë ontvang. Altwee haar dansgroepe het ook vir deelname aan die Talent America-kompetisie in New York gekwalifiseer.”

Sy het bygevoeg dat Domuniqe nie net op dansgebied uitblink nie, maar dat sy ook in netbal, hokkie en atletiek presteer. “Sy doen ook baie goed op akademiese en kultuurgebied, en het verlede jaar erekleure vir kultuur ontvang vir haar deelname en prestasie by die Abacus Maths Wêreldkampioenskappe. Sy het vroeër vanjaar aan die Super 12 Redenaarskompetisie deelgeneem waar sy een van slegs twee Junior Fase-leerders was wat haar skool verteenwoordig het. Sy het ook in April aan die ATKV-redenaarskompetisie by Hoërskool Linden deelgeneem.”

Domunique het gesê dat sy dit baie geniet om saam met haar instrukteurs en dansgroepe te dans. “Dit is nie vir my ‘n straf om baie hard te werk en te oefen nie, want ek weet dat dit die enigste manier is hoe ek my doelwit kan bereik om eendag nie net so goed soos my instrukteurs te kan dans nie, maar ook om ‘n wêreldkampioendanser te wees.”

Related Articles

Back to top button