Ek het op Donderdag, 2 Mei na ‘n hokkiewedstryd tussen die eerstespanne van twee plaaslike hoërskole gaan kyk.
As ouer is ek geneig om langs die veld te staan terwyl ek nie net my dogter nie maar die hele span ondersteun. Dit was glad nie ‘n slegte wedstryd nie en alhoewel die spelers mekaar behoorlik die stryd aangesê het, was daar nie onnodige vuilspel nie, wat my ouerhart baie bly gemaak het.
Maar, groot was my teleurstelling gedurende die tweede helfte toe ek die volgende woorde hoor nadat een van die spelers die bal so ‘n bietjie gelig het, “Mooi so meisies, amper ‘n drop goal tussen die pale! Drie punte vir ons!”
Terwyl ek so om my kyk, besef ek toe dat dit die afrigter van die opposisie skool is wat dit gesê het, en dit tot my groot verbasing ‘n tweede keer weer gesê het.
Dit het my laat wonder of dit ‘n poging tot humor was of wou sy dalk haar spelers aanmoedig om die spelers van die opposisie met opset te beseer?
My vraag is dus, waar is die sportmangees? Is dit die voorbeeld wat aan die spelers gestel word? Watter beeld word van die betrokke skool uitgedra deur sulke onverantwoordelike stellings?