Hoërskool Florida se Graad 12 Dramatiese Kunste-leerders het onlangs die geleentheid gehad om hul toneelkennis ten toon te stel.
Hul drama-onderwyser, Hesta van Straten, het aan die leerders die kans gebied om as regisseurs van tienertonele op te tree. Hulle kon ook oudisies hou om self die perfekte akteurs vir hul onderskeie tonele te kies.
Ses tienertonele is in die splinternuwe Renico Dramateater opgevoer, wat die gehoor behoorlik op die punte van hul stoele gehad het.
Die tonele is Dubbelloop (Caitlin Oelofse en Danika van der Walt), Vreemdeling in die Niet (Kyle Roberts en Jenna Labuschagné), Die hart se hard (Anieka Venter en Ealda Matladi), Die Joiner (Juanita Geerdts), Vrou is lewe (Steven Steenberger en Miché Faber) en Patriarchy (Robyn Joubert).