Gauteng-ringbaldag ‘n reuse sukses
Honderde ringbalspelers van reg oor die provinsie het onlangs saamgetrek om aan die Gauteng Federasie se jaarlike ringbaldag deel te neem.
![](https://dwu32cgxelq1c.cloudfront.net/local_newspapers/sites/20/2019/07/IMG_1228_71909.jpg)
Vinnige voete, doele en spanwerk was die fokus van die dag toe meer as 170 spelers onlangs in Mindalore saamgetrek het om kragte te meet in aksieringbal.
Een-en-sewentig spanne van Gauteng het op 8 Junie aan die Gauteng Federasie se jaarlikse byeenkoms by die Warriors Ringbalklub deelgeneem. Dit was die eerste jaar dat Warriors die byeenkoms aangebied het.
Daar was ook baie ondersteuners wat die dag gaan kyk, aangemoedig en gekuier het. Volgens die Warriors-voorsitter Bertus Botha, het meer as ‘n duisend mense dié dag daar ‘n draai gaan maak.
Die byeenkoms was ‘n geleentheid vir spanne van regoor die provinsie om te oefen ter voorbereiding van die nasionale kampioenskappe wat van 23 tot 29 Junie in Pretoria plaasvind.
Hierdie jaar is die Warriors se mans A-span en hul juniorspan as ligawenners van die seisoen aangewys en agt Wes-Randse spanne neem tans aan die nasionale kampioenskappe deel.
Die Warriors het self vier mans A-spanspelers, drie mans B-spanspelers, twee meestermansspelers, ses dames B-spanspelers, twee veterane damespelers, twee meesterdamespelers, een o.13-seunspeler, sewe o.17-seunspelers en drie spanbestuurders na die nasionale kampioenskappe gestuur.
Bertus het vertel dat die klub se fokus na die nasionale kampioenskappe verskuif na voorbereiding vir die skolekampioenskappe wat in Oktober plaasvind.
“Ons is op soek na spelers om by ons aan te sluit met die oog op die skolekampioenskappe,” het hy verduidelik.
Hy het bygevoeg dat hulle spelers nodig het vir hul o.11- tot o.18-spanne en dat enige seun of dogter welkom is.