
Drie weke gelede het my pa, op pad na ‘n plaaslike hospitaal, ophou asemhaal. Ek het hom met mond-tot-mondasemhaling weer bygebring.
Ek het op pad soontoe die dokter, wat hom die laaste 20 jaar behandel het, laat weet dat ons op pad ongevalle toe is. Hierdie dokter het al twee keer sy lewe gered en altyd die ekstra myl vir hom gestap.
By die ongevalle-afdeling moes ek na ‘n paar uur uitvind dat my pa weer by ‘n dokter geplaas is met wie ons ‘n jaar gelede ‘n slegte ervaring gehad het.
Na drie dae in die hospitaal, is ons na die hospitaal ontbied aangesien my pa baie siek was. Met die predikant se besoek moes ons vele kere die personeel versoek om stiller te wees, sodat ons kon hoor wat hy sê.
Ek het dieselfde middag vir hulle gevra om vir my pa ‘n ekstra kombers te bring, wat hulle teen 9nm gebring het. Ons moes buite wag terwyl hulle sy bed weer opgemaak het.
Vyf minute later het hulle ons meegedeel dat my pa gesterf het toe hulle hom gedraai het. Al die pype was uit sy neus en mond getrek – glo omdat hulle nie wou hê dat ons hom so moes sien nie. Daar hang ‘n groot vraag oor wat in daardie vyf minute gebeur het.
Al wat ek vir die mense in die mediese beroep wil sê is: “Wat jy saai, sal jy maai – of jy nou ‘n skoonmaker, ‘n verpleegster of ‘n dokter is”.