Witpoortjie Superman soek sy eie Lois Lane
Is jy die meisie wat sy droom kan bewaarheid?
![](https://dwu32cgxelq1c.cloudfront.net/local_newspapers/sites/20/2019/08/IMG_0129_85867.jpg)
Roodepoort se eie matriek-vrygesel, Craig Johnson, 19, is op soek na dié meisie om hom na vanjaar se matriekafskeid te vergesel.
Craig, ‘n matriekleerder by Hoërskool Roodepoort, sien baie daarna uit om die matriekafskeid by te woon, maar het een struikelblok – hy het niemand om saam te neem nie. Die matriekafskeid word op 19 September by die skool gehou, en volgens Craig is al die kostes, wat die kaartjies en die motor vir die aand insluit, reeds gedek. Hy het bygevoeg dat die meisie nie ‘n leerder van Hoërskool Roodepoort hoef te wees nie.
![](https://roodepoortrecord.co.za/wp-content/uploads/sites/20/2019/08/IMG_0133-Medium.jpg)
Dié jong man is nie net sag op die oog nie, maar spog ook met goeie maniere en respek vir ander. Hy is ‘n man van vele talente, en is mal daaroor om kos te maak en het ‘n passie vir fotografie. Hy is baie lief vir diere.
“Ek hoop net ek kry die regte meisie wat oulik is en saam met my die aand kan geniet. Dalk word ons baie goeie vriende,” het hy met ‘n skaam glimlag gesê.
Meisies, hierdie is jou kans om nie net soos ‘n prinses te voel vir die aand nie, maar ook om ‘n goedhartige jong man te leer ken.
As jy Craig se droom wil bewaarheid, kontak sy ma, Tania Johnson, by 083 581 5243.