Local newsNews

‘n Potjie vir liefdadigheid

As jy 'n bobaas potjiekossjef is, kom geniet die kompetisie en ondersteun 'n goeie saak

Is jy ‘n meester potjiekoskok? Kom wys jou potjiekostalente terwyl jy ‘n goeie saak ondersteun. Om alles te kroon kan jy groot pryse wen.

Die kompetisie word op 31 Augustus by die Viva Sportgebou, Olivierstraat 10 in Florida gehou en begin om 8vm.

Die kompetisie dien as ‘n fondsinsamelingsprojek vir die Florida Buurtwag, en inskrywingsgelde beloop R250 per span (maksimum vier lede). Daar sal musiek, vermaak en kos vir alle deelnemers wees.

Daar is ‘n paar reëls wat gevolg moet word:

• Elke span moet ‘n tema vir die dag hê en volgens hul tema aantrek.

• Elke span moet ‘n bykos (van hul eie keuse) maak.

• Elke span is verantwoordelik vir al hul benodigdhede om die kos te maak en voor te sit, asook hul eie tafel, stoele, sambreel of opslaantent en al die eetgerei.

• Om vir beoordeling in aanmerking te kom, moet die voorbereiding stiptelik om 8vm begin, en teen 1nm klaar wees. Dit sluit die bykos in.

• Die potjie moet vir ‘n minimum van 10 mense kan voorsien, wat die beoordelaars insluit.

• Geen vooraf voorbereiding word toegelaat nie, alles moet tydens die kompetisie gedoen word.

• Die potjies sal volgens die kriteria van kleur, reuk, smaak, tekstuur, bestanddele en die netheid van die werksomgewing beoordeel word.

• Elke span is daarvoor verantwoordelik om hul werksomgewing aan die einde van die kompetisie skoon te maak.

• As deel van die fondsinsameling sal vier tot ses porsies van elke span se potjie verkoop word.

Benewens die pryse vir die eerste, tweede en derde plek, kan verskeie ander pryse gewen word, insluitend vir die beste kleredrag en die beste spangees.

Die wenner sal ‘n prys ter waarde van R20 000 wen, wat ‘n verblyfpakket vir vyf aande by Palm Beach Resort in KwaZulu-Natal, asook ‘n verskeidenheid koopbewyse insluit.

Vir verdere inligting of ‘n inskrywingsvorm, kontak André Brink by 072 570 1710.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button