NewsSchools

Kruiner-skrywer is goud werd

Haar storie gaan in ‘n bundel met ander streke se wenstories gepubliseer word.

 

‘n Graad 3-skryfkunstenaar van Laerskool Helderkruin, Anika Luus, is tydens die Grondslagfase Distrikstoekenningsfunksie vir haar uitstaande prestasie in die Distrik-storieskryfkompetisie beloon.

Haar eerste boek, Die katjies en die eekhoring, is as die wenner van die Storieskryfkompetisie van die Johannesburg-Wes Distrik aangewys.

“Ek hou baie van skryf. Ek het al ‘n paar ander stories oor die reënerige weer geskryf, maar dié was die eerste boek wat ek geskryf het en ingeskryf het vir die kompetisie,” het Anika gesê.

Die storie, wat sy in Mei begin skryf het, gaan oor vier katjies wat op die nuus gesien het dat ‘n nuwe maatjie by hul skool aangesluit het. Die katjies was baie opgewonde om die nuwe maatjie te ontmoet, maar toe hulle Maandag moes skool toe gaan, was hulle siek. Hulle kon toe eers die nuwe maat, ‘n eekhoring, later in die week ontmoet, en hulle het beste vriende geword.

“Ek het by my ouma geleer om stories te skryf. Sy was ‘n onderwyseres en het al die skool se toneelstukke geskryf. Sy het ook altyd boeke geskryf waarvoor ons die prentjies vir die voorblad of vir die storie geteken het. Na ‘n tydjie het sy gevra dat ek ‘n boek begin skryf en daar het ek my passie vir storieskryf gekry,” het Anika vertel.

Alhoewel sy nou eers in Graad 3 is, weet Anika alreeds wat sy met haar lewe wil doen, en het gesê, “Ek hou baie van die boek Speurder Anika, en my naam is ook Anika. Daarom wil ek graag ‘n speurder word as ek groot is. As ek dalk eendag ‘n skrywer word, sal ek speurverhale skryf.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button