Jong krieketster op pad Indië toe
Besoek die BackaBuddy-webtuiste om 'n talentvolle speler se droom te help bewaarheid

Die toekomstige Hansie Cronje van Hoërskool Bastion, Christo Stoop, is vanjaar vir die nasionale krieketspan gekies wat aan die einde van die jaar Indië toe gaan toer.
Christo het al van driejarige ouderdom af gewys dat hy ‘n kranige krieketspeler kan word, en sy liefde vir die sport het net sterker geword terwyl hy saam met sy ouers op die grasperk krieket gespeel het. Hy het vir die eerste keer in Graad 1 formeel aan die sport deelgeneem, en dit is steeds sy grootste liefde.

Hy het behoorlik met sy talent gewoeker en is in Graad 3, 4, 5, 7 en 11 in die Sentraal-Wes-krieketspan opgeneem. Hy was ook die onderkaptein van die Transvaal-span en is die kaptein van Hoërskool Bastion se eerstekrieketspan.
Krieket is sy grootste passie, en hy werk hard sodat hy eendag sy droom om ‘n professionele speler vir Nieu-Seeland of Engeland te wees, kan bewaarheid.

Hy het vanjaar een van sy doelwitte bereik toe hy in Oktober aan die Bokkieweek-krieket deelgeneem het en was ‘n lid van die Giselle-span. Christo is tydens dié toernooi as ‘n lid van die nasionale span met die oog op die Indiese toer gekies.
Al is dit ‘n groot droom wat vir hom bewaarheid is, lê daar vir hulle ‘n opdraande stryd voor. Die Stoop-gesin benodig R29 000 om te verseker dat Christo hierdie eenmalige geleentheid kan benut. Hulle het met ‘n fondsinsameling begin om die jong krieketster Indië toe te stuur, en daar is tans nog R18 000 uitstaande.

“Dis ‘n geleentheid vir my om meer ondervinding op te doen en om my tegniek te verbeter. Krieket is my lewe; ek probeer my vaardighede elke dag verbeter en werk om my doelwit te bereik om eendag ‘n professionele speler te wees. As enige iemand kan help, sal ek dit uit die diepte van my hart waardeer en vir altyd dankbaar wees,” het Christo afgesluit.
Diegene wat graag wil help, kan die volgende skakel volg, waar hulle dan ‘n donasie kan maak: https://gogetfunding.com/bokkieweek-national-tour-to-india-christo-stoop/?fbclid=IwAR3-bVEbBp6rv4CnZ86g-d1k2zFMeu7f4aQ0dt68vjG2ijdef4xQmtbCRJ8. Kontak gerus vir Marthinus Stoop by 083 965 0726.