Roodepoort Krieketspeler sê dankie
"Ek kan dit nog nie glo dat ek gaan krieket speel in Indië nie"
Die toekomstige Hansie Cronje van Hoërskool Bastion, Christo Stoop, wat vir die Nasionale Krieketspan gekies is, se droom om die toer na Indië mee te maak, het waar geword.
Met die stryd wat hy in die oë gestaar het om die nodige fondse te bekom, het verskeie gemeenskapslede ‘n hand uitgereik deur die talentvolle speler se droom te help bewaarheid.
“Graag wil ons net dankie sê vir almal wat gehelp het om fondse intesamel en aan elke vriend, familie en vreemdeling wat hulle harte so ruim oop gemaak het. Dit was ‘n groot bedrag en baie min tyd om dit in te samel, maar ons het dit reg gekry. Sonder almal se hulp en bydraes sou dit onmoontlik gewees het. Ook baie dankie aan almal wat op Facebook wat ons plasings gehelp deel het. Die span vertrek op 28 November en weer terug wees in Suid-Afrika op 7 Desember,” het Marthinus Stoop, Christo se pa, met ‘n glimlag gesê.
Christo is met ‘n dankbare hart opgewonde om sy droom te kan uitleef en om die geleentheid wat aan hom gegee is, aan te gryp. “Ek is ontsettend opgewonde en dit voel of ek in ‘n droom lewe. Ek kan dit nog nie glo dat ek krieket gaan speel in Indië nie. Ek sal my absolute beste lewer. Dit is enige krieketspeler se droom om in Indië te kan gaan speel. Ek sien baie uit daarna om die verskillende kosse te probeer, en om hulle kultuur te beleef. Baie dankie dat julle dit vir my moontlik gemaak het om die droom te realiseer,” het Christo afgesluit.