Helpende Hand reik uit na behoeftige meisies deur #HelpHetta-projek
Die matriekafskeidrok sal elke jaar beskikbaar gestel word om ’n paar behoeftige meisies se matriekafskeiddrome waar te maak.

Demi-Lee Moore, ambassadeur van die #HelpHetta-projek, het vanjaar besluit om haar twee droomrokke aan liefdadigheid te skenk.
Die #HelpHetta-projek is in 2015 op die been gebring waardeur gesorg is dat ’n Hetta-pakkie regdeur die jaar vir behoeftige meisies by skole afgelewer word. Die pakkie bestaan uit sanitêreware asook higiëneprodukte.
“Ons gaan vanaf 2020 die matriekafskeidrok elke jaar beskikbaar stel om ’n paar behoeftige meisies se matriekafskeiddrome waar te maak. Ons sal ook sorg dat sy mooi gegrimeer word en haar hare versorg word. Die rok word na die funksie aan Helpende Hand terugbesorg om die organisasie in staat te stel om meer meisies minstens vir een aand soos ’n prinses te laat voel,” het Benette Rautenbach, Helpende Hand se projekorganiseerder van #HelpHetta verduidelik.
Die meisies wat hieruit kan voordeel trek, sal elke jaar deur middel van Helpende Hand se Gauteng-takke en maatskaplike werkers geïdentifiseer word.
Die geld wat met die verkoop van Demi-Lee se Afrikaans is Groot-aandrok ingebring is, is teruggeplaas in die #HelpHetta-projek sodat behoeftige meisies regdeur die jaar die nodige sanitêreware kan kry. “Madelé Ludike het die hoogste aanbod vir Demi-Lee se rok gemaak wat sy tydens haar optrede by Afrikaans is Groot in 2018 gedra het. Baie dankie aan Demi-Lee wat haar pragtige rok beskikbaar gestel het en aan Madelé wat haar hart oopgemaak het om die rok te koop. Hierdie pragrok gaan by die De La Mas Venue benut word,” het Benette bygevoeg.
“Altesaam 3 000 meisies van 100 verskillende hoër- en laerskole en instansies word landswyd gehelp. Elke sent wat ontvang is vir Demi-Lee se rok, word teruggeploeg in die #HelpHetta-projek om seker te maak dat nie een van die meisies van die skool af hoef weg te bly nie. So ook word R300 000 van die geld wat Helpende Hand elke jaar deur ondersteuners en projekte insamel, aan #HelpHetta toegestaan om dié produkte aan te koop.”
“Ek het op hoërskool al gewonder hoe ’n mens wat skaars ’n brood kan bekostig, sanitêreware kan koop. As jy moet kies tussen kos en sanitêreware, watter een gaan jy kies? Dit is dus vir my belangrik om deel te wees van dié projek want ek wil graag saam met die publiek dié meisies help om hul lewensgehalte te verbeter. Meisies moet met selfvertroue kan skool toe gaan en aan sport deelneem,” het Demi-Lee gesê.
Sy het vertel dat sy die rokke wat sy aan dié projek skenk, tydens groot gebeurtenisse in haar lewe gedra het toe haar drome waar geword het. “Ek het net ’n tydjie terug gedink die rokke hang net daar in die kas. As ek dit kan skenk en ’n verskil maak, hoekom nie? Toe kom #HelpHetta oor my pad en dit was ’n perfekte kombinasie. Ek hoop dit kan ander meisies se drome ook waar maak,” het sy afgesluit.