Local sportSport

Stoeier het die wêreld aan sy voete

Sy volgende doelwit is om as Wêreldkampioen gekroon te word.

Juan Nel, die hoofafrigter van die Wesrand Stoei Gimnasium (WSG), het alreeds hoë hoogtes in sy stoeiloopbaan bereik, maar hy droom steeds daarvan om as ‘n Wêreldkampioen gekroon te word.

Juan het op sewejarige ouderdom begin stoei, en met die hulp en leiding van sy afrigter, Jan Marx, het hy geblom. Hy is nou reeds 23 jaar deel van die stoeiwêreld, en sal dit vir niks verruil nie.

In sy stoeiloopbaan het Juan al van die hoogste hoogstes bereik. Hy het in 1999, 2000, 2001, 2003 en 2005 Springbok-kleure ontvang en in 1999 het hy ook ‘n derde plek by die All Africa Games-kampioenskappe verower. In 1995, 1999, 2016 en 2017 het hy vir deelname aan die Wêreldkampioenskappe gekwalifiseer en twee bronsmedaljes in die Grieks-Romeinse en Vrystylkategorie verower. “Dit is altyd besonders om jou land te verteenwoordig. Elke jaar bring meer en sterker kompetisie, wat gesond is vir die sport. Dit laat my meer en hoër doelwitte stel om sterker en beter terug te keer,” het hy gesê.

Hy het vanjaar weer aan die Wêreldkampioenskappe deelgeneem waar hy ‘n agtste plek in die Grieks-Romeinse afdeling, asook ‘n negende plek in die Vrystylafdeling verower het. “Die kompetisie is baie sterker op wêreldvlak as op SA-vlak. In oorsese lande is stoei ‘n skoolsport en dit word ook professioneel beoefen. Ons in Suid-Afrika volg ons gewone beroepe en oor naweke en na werk of skool moet ons voorbereiding doen,” het hy verduidelik.

Om as ‘n goeie stoeier geklassifiseer te word, moet jy oor dissipline, uithouvermoë en selfvertroue beskik. “Maar iemand wat aan stoei deelneem, kan ook hierdie eienskappe aanleer. Vir my is die belangrikste aspek die dissipline wat saam met die fisiese oefeninge toegepas moet word. My stoeiers oefen hard en dissipline is ‘n gegewe,” het hy bygevoeg.

Juan se lewensmotto is; “If it is to be, it’s up to me, and hard work beats talent”.

Sy volgende doelwit is om as ‘n Wêreldkampioen gekroon te word, en met sy harde werk en dissipline is dit ‘n droom wat hy definitief sal kan bewaarheid.

Sien Juan Nel  hier in aksie.

Related Articles

Back to top button