![](https://dwu32cgxelq1c.cloudfront.net/local_newspapers/sites/20/2020/01/IMG-20200107-WA0002_74508.jpg)
Familie en vriende het aan die begin van die nuwe jaar die geliefde dokter Marthinus (Maarten) Theunissen vir die laaste maal gegroet. Maarten is op Woensdag, 1 Januarie oorlede.
Dr Theunissen is op 6 April 1948 in Roodepoort gebore, en, volgens sy familie, het hy nog altyd ‘n omgeehart gehad. “Vandat ek hom leer ken het, het hy nog altyd omgegee vir ander,” het sy vrou, Elsie Theunissen gesê. Elsie en Maarten was byna 50 jaar saam, en het ook die voorreg gehad om ‘n gedeelte van hierdie tydperk, met drie seuns te deel. Hul geluk het vermeerder, met die toevoeging van drie skoondogters en sewe kleinseuns.
![](https://roodepoortrecord.co.za/wp-content/uploads/sites/20/2020/01/IMG_3727_24618-800x600.jpg)
Maarten was vir 42 jaar ‘n dokter in die gemeenskap, en laat diep voetspore agter. “Hy was nie net sy pasiënte se dokter nie, hy was ook, soos hulle al gesê het, hulle oor om te luister en skouer om op te leun. Sy hart was altyd vol omgee en liefde. Hy het altyd, al was dit nou geestelik, emosioneel of fisies, gehelp waar hy kon,” het sy een seun, Wynand Theunissen bygevoeg.
Hierdie nalatensklap was baie duidelik tydens sy gedenkdiens op Maandag, 6 Januarie, en Elsie het gesê, “Sy liefde vir sy familie en ander, was onbeskryflik. So baie mense het ons ondersteun. Hulle het saam met ons op die dag gehuil.”
Maarten het ook ‘n liefde vir die natuur en diere gehad, en het ook sy passie vir sy houtwerk stokperdjie uitgeleef. “Ons het altyd in Namibië, en baie ander plekke, saam met my pa gaan visvang. Dit was ons tradisie,” het Wynand vertel.
![](https://roodepoortrecord.co.za/wp-content/uploads/sites/20/2020/01/IMG_3721_39298-800x600.jpg)
Elsie het bygevoeg dat Maarten ‘n groot terggees was en altyd probeer het om mense te laat lag met die poetse wat hy gebak het, “Hy was lief vir almal, en was lief daarvoor om poetse te bak vir ‘n lekker saam lag. Hy het my baie geleer.
Daar is soveel herinneringe wat ons altyd sal koester, ons sal hom nooit kan vergeet nie.
Maarten se pasiënte sal hom ook altyd onthou as ‘n liefdevolle en omgee-mens, iemand wat hulle altyd met sy kenmerkende ‘bear hug’ gegroet het voordat hul konsultasie begin het.
Maar, iets wat altyd vir Wynand sal uitstaan van sy pa, is sy terggees en liefde vir mense. Op sy Facebook-blad het hy geskryf, “Hey dad! Gaan jou mis! Jy was die beste van almal. Wêreld is ‘n lee plek sonder jou! Sal jou altyd onthou!.