Local newsNews

Roodekrans-paartjie vier ses dekades van liefde

Hulle raad vir 'n gelukkige huwelik is gegrond op die beginsels van liefde vir mekaar.

Edith en Hendrik le Roux, albei 81 jaar oud, het op 16 Januarie ses dekades van lag, liefde en geluk as man en vrou gevier.

Hulle het mekaar in 1956 in hul geboorteplek, Braamfontein ontmoet, en dit was liefde met die eerste oogopslag. “Ek en my vriendinne het na die kafee toe gestap waar Hendrik en sy vriende ook toevallig was,” het Edith vrolik vertel.

“Ons het stoute goed aangevang,” het sy laggend gesê. “Ons groep vriende was altyd saam, en by die kafee het ons soms die waatlemoene vir mekaar gegooi en weer gevang.”

“Ons was geseënd om dit tot hier te maak,” het Hendrik vertel. “Ek het probeer om van Edith ontslae te raak, maar hulle het gesê ek moes hulle betaal om haar te vat,” het hy bygevoeg, wat albei laat skaterlag het.

Hulle het vertel van die goeie dae en herinneringe wat hulle altyd sal bybly. “Ek sal altyd onthou hoe hulle my ma se kondensmelk gesteel en gedrink het,” het Edith laggend vertel. “Ons het ‘n gaatjie aan die bokant gemaak en dan die blikkie in ‘n piering gesit sodat die kondensmelk alles in die piering kon inloop. Dan het ons lekker gedrink en die blikkie teruggesit. Wanneer my ma dit wou gebruik, was die blikkie leeg,” het Hendrik bygevoeg.

“Dit was nie altyd maanskyn en rose nie en ons het ook maar moeilike tye gehad, maar ons is hier, en ons is nou al 60 jaar getroud,” het hy bygevoeg.

Hulle raad vir ‘n gelukkige huwelik is gegrond op die beginsels van liefde vir mekaar, ‘n sterk geloof, en opofferings maak vir jou familie. “Al lyk dit hoe donker, verdra mekaar,” was Edith se raad aan ander.

“Trou is nie perdekoop nie. Ons het net die seëninge gekry in die lewe,” het Hendrik gesê, en bygevoeg dat hulle grootste seën hul vyf kinders, 10 kleinkinders en 11 agterkleinkinders insluit.

Hulle het genoem dat hul huis altyd vol mense, liefde, en vreugde was en nog steeds is. En dit is ook nie moeilik om te glo nie, veral as jy sien hoe Hendrik die hele vertrek met sy grappies en tergery ophelder.

Dit is duidelik dat hierdie paartjie gereed is om nog heelwat jare van lag en liefde met mekaar te deel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button