Rolbal skole-liga vir Witpoortjie beplan
Die doel met die projek is om skole betrokke te kry en leerders te help om meer aktief te wees.
![](https://dwu32cgxelq1c.cloudfront.net/local_newspapers/sites/20/2020/01/IMG-20200113-WA0017_07339.jpg)
Die Witpoortjie Rolbal Klub (WRK), in samewerking met die African National Congress (ANC) sal vanjaar hulle nuwe skoleligaprojek afskop.
Verlede maand het die Stad van Johannesburg se nuwe Burgemeester, Geoff Makhubo, en die ANC Wyk 71-taksekretaris, Thabo Letopa, die WRK besoek om die nuwe skoleprojek by die WRK in werking te stel.
Die doel met die projek is om skole betrokke te kry en leerders te help om meer aktief te wees, en hul tyd eerder aan iets positief te bestee. “Baie kinders wil nie noodwendig aan rugby, hokkie, netbal of ander sportsoorte deelneem nie, maar mag dalk belangstel om eerder iets soos rolbal te probeer. Dit is vir hierdie kinders wat ons graag die geleentheid wil gee om deel van dié sport te word,” het George Nysschen, President van die WRK verduidelik.
Met die begin van die nuwe skooljaar sal George en sy span die skole besoek om vir die leerders die doel van die skoleliga te verduidelik en hulle die geleentheid te gee om deel te word van die skolespan.
George het bygevoeg dat die ANC ook hulp aangebied het met toerusting en sportdrag vir die kinders wat graag by die sport betrokke wil raak.
Vir enige inligting oor die skoleliga, of om jou kind in te skryf, kontak George by 082 979 2003 of stuur ‘n epos na witpoortjiebowlingclub@gmail.com.