Judoka mik vir internasionale gouemedaljes
Hy noem dat hy 'n goeie ondersteuningstelsel het, en dat hy graag sy medejudokas tydens kompetisies aanmoedig.
![](https://dwu32cgxelq1c.cloudfront.net/local_newspapers/sites/20/2020/02/IMG_4108_28147.jpg)
“Judo is vir my belangrik, veral omdat dit my respek leer vir ander, my fiksheid opbou, en leer om altyd nederig te bly en hard te werk,” het 14-jarige judoka, Ruben Cordier gesê.
In 2012 het hy sy judopad by die Doryoku Judo Klub begin stap. “Die ander aspekte van judo wat belangrik is, is dat dit jou dissipline leer, nie net teenoor jou opponente nie maar ook teenoor almal om jou,” het hy bygevoeg.
Hy neem gereeld deur die jaar aan plaaslike judokompetisies deel, en skitter tydens die kampioenskappe. “Ek het die afgelope vyf jaar elke jaar aan die Suid-Afrika Judokampioenskappe in die individuele, spangevegte- en katakategorieë deelgeneem. Verlede jaar was my beste jaar so ver by die SA’s. Ek het ‘n eerste plek in al drie my kategorieë gewen,” het hy gesê.
Ruben het sedert 2015 verskeie medaljes tydens die SA kampioenskappe gewen en het reeds een vyfde plek, twee vierde plekke, twee derde plekke, vier tweede plekke, en vier eerste plekke behaal. Verlede jaar het hy vir kata individueel, en -spangevegte ‘n gouemedalje ingepalm en gekwalifiseer vir die Statebondsjudokampioenskappe. “Vir my was dit ‘n ongelooflike eer en belewenis om Birmingham toe te reis en aan so ‘n groot internasionale kompetisie deel te neem. Ek het geleer dat jy aanhoudend moet oefen, dat jy nooit die beste is nie en dat daar altyd iemand is wat beter as jy is. Jy moet altyd bereid wees om nuwe dinge te leer en ook jou ondervinding te deel met ander judokas,” het hy verduidelik.
Vanjaar het hy met ‘n nuwe gradering begin en sy junior swartgordel tydens die Nasionale Graderingsbyeenkoms verwerf. “Ek was baie opgewonde, omrede ek baie hard gewerk het om dit te behaal. Ek is baie dankbaar vir sensei Danie Bruwer wat ‘n ongelooflike afrigter is,” het hy vertel.
Hy mik nie net daarna om eendag as die Afrika Spele- en die Statebondspele-kampioen aangewys te word nie, maar ook om die geleentheid te kry om sy eie judodojo te stig. “Dit sal wonderlik wees om aan ‘n kompetisie in Japan deel te neem en om nog meer van hierdie sport te leer. Ek sal baie graag eendag self ‘n sensei wil wees met my eie dojo en judokas, met die hulp van sensei Danie,” het hy vasberade bygevoeg.
Bereidwilligheid, respek en harde werk is volgens Ruben die eienskappe van ‘n goeie judoka, en sy prestasies is bewys daarvan dat hy definitief reeds al die eienskappe het.
“Ek motiveer myself deur hard te oefen om myself te verbeter, en alles in te sit tydens elke kompetisie. Ek glo in die gesegde, ‘Hard work beats talent when talent does not work hard’,” het Ruben afgesluit.