NewsSchools

Die Burger-adjunkhoof groet na 28 jaar

Dries sluit sy onderwysloopbaan na 38 jaar af

“Ek was so verras toe ek al my oudkollegas, vrou en dogter sien, ek het gedink dis dalk ‘n reünie, maar toe besef ek dit is eintlik ‘n afskeid.”

So het Dries Schoonraad, die adjunkhoof van Hoërskool Die Burger by sy afskeidsfunksie gesê. Die hoof van die skool, Barnie Lötter het, met die hulp van kollegas, ‘n funksie vir Dries gereël wat na 28 jaar by die skool aftree.

Barnie het die funksie afgeskop deur almal te bedank vir hul teenwoordigheid. “Ek is woordeloos; wat sê ek? As ek kon, sou ek ‘n monument vir Dries gebou het, met goud boaan wat sy 28 jaar by Hoërskool Die Burger sou verteenwoordig,” het Barnie gesê. Hy het vertel dat Dries sy onderwysloopbaan in 1980 by die Hoërskool Randburg begin het en 10 jaar later by Burger aangesluit het waar hy Biologie aangebied het.

Dries Schoonraad met die oorkonde wat hy ontvang het.

“Ek sal Dries se passie en motivering onthou – in die klaskamer en op die sportveld. Sy passie en liefde vir sy vrou en kinders was ook ooglopend. Hy het sy gesin altyd eerste gestel, maak nie saak wat die omstandighede was nie. As ek hom in een sin moet beskryf, sou ek sê dat hy altyd beskikbaar was om te dien en nie gedien te word nie,” het ‘n emosionele Barnie gesê.

Die Verteenwoordigende Leerderraad (VLR) het ook ‘n geleentheid gekry om ‘n boodskap, asook ‘n klein geskenkie aan Dries te oorhandig. Pule Lemme het ‘n hartroerende boodskap voorgelees waarin hy gesê het, “Ons staan hier met ‘n tornado van emosies binne ons en alhoewel ons aan Meneer ‘n staande ovasie gee, huil ons aan die binnekant”.

Van links is Martie, Dries en Mandie Schoonraad. Fotos: Adéle Bloem

Die onderwysers en administrasiepersoneel het ‘n paar klein geskenkies aan Dries oorhandig, waarna hy die geleentheid gekry het om ‘n paar woorde te sê.

“Julle het my nou so onkant gevang ek sal eers hier op my foon moet Google wat mens alles tydens so ‘n geleentheid sê,” het hy met ‘n glimlag begin. Dries het vertel dat hy baie gemengde gevoelens ervaar, want wanneer mens weggaan by ‘n plek, is jy altyd bly en hartseer. “Ek is baie bly dat ek nooit weer ‘n vraestel hoef na te sien en die banke met die rooi ink bemors nie, maar ek sal definitief die klasgee, sport en goeie tye saam met my kollegas mis,” het hy gesê.

Dries Schoonraad (links) en Barnie Lotter (skoolhoof).

Hy het gesê dat hy nie regtig baie laagtepunte in sy onderwysloopbaan beleef het nie, maar wel baie hoogtepunte. “Baie dankie vir elkeen, ek het nie so iets verwag nie. Baie dankie vir al jul moeite. Ek gaan definitief nou meer tyd maak om saam met my gesin en vriende te spandeer,” het hy vertel.

Pule Lemme van die VLR het ‘n boodskap voorgelees.

Die funksie is afgesluit deur Barnie wat ‘n oorkonde aan Dries oorhandig het. “‘n Oorkonde is die hoogste toekenning wat ‘n skool aan iemand kan gee. Dries verdien hierdie toekenning,” het Barnie afgesluit.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button